Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vars inkopies op Saterdag is kuns en plesier
Prof. Hennie van Coller

In Nederland en België moes baie klein winkeltjies van weleer ook die knie buig voor supermarkte. Tog is die inkopiewaentjies waarmee jy jou “boodschappen doen” en agter jou aansleep, steeds ’n normale gesig.

Europeërs, veral in groot stede, is meestal aangewese op openbare vervoer, omdat baie stede kil staan teenoor motoriste. Parkeerplekke is min en duur en stadskerne dikwels ontoeganklik vir motoriste. En ry jy trein of bus, kan jy kwalik sakke vol kruideniersware saamsleep.

Dit is daarom bykans net by supermarkte buite stede of dorpe waar mense opdaag met hul motors en soos Suid-Afrikaners reusetrollies kruideniersware op een slag koop. Tuis is selde hulpe wat aandra en wegpak. Normaalweg word kleiner hoeveelhede meer dikwels aangekoop.

Vir baie van my vriende oorsee is inkopies doen plesierig en dis heerlik om vars vrugte en groente Saterdag by die mark te koop. Dalk met ‘n paar stukke vis, olywe en neute daarby. Jy moet vroeg gaan om die beste produkte aan te skaf.

Die eintlike kuns is om te weet wanneer om wéér ’n draai by die mark te gaan maak.

Daarna gaan drink jy koffie, snuffel in boekwinkels, koop jou kaas by die kaasboer en loop by die “slijter” in wat jou van advies kan bedien oor die nuutste keurwyne.

Die eintlike kuns is om te weet wanneer om wéér ’n draai by die mark te gaan maak. Sodat jy net betyds is vir die uitverkoping van blomme. My verbasing was groot toe ek in my studentetyd vars blomme op die tafel van jong – “nie-artistieke” – manstudente aangetref het.

In Suid-Afrika is inkopies doen veel eerder ’n dwingende las as ’n ontspanne ritueel. Mans wat inkopies doen, doen dit onder sterk dwang en daarom uiters gerig. Gewapen met ’n lysie word die winkel vinnig verken en bestek opgeneem van die uitleg. Dan word doelgerig afgepyl op dit wat die huisbestuurder (vroulief) neergepen het.

Indien dié opdrag van herhalende aard is, sal die man sy logistiek fyn beplan: eers al blikkies en bottels, dan die suiwel en vleis. Die regte inkopiesakke staan gereed; selde van plastiek.

Immers: Beplanning is alles en tyd is geld!

Mans wat nog ingebreek word en net dan en wan die opdrag (dis geen versoek nie!) kry om inkopies te doen, spel gevaar. Hulle swig voor winskopies en lekkernye en arriveer dikwels tuis met Franse kaas, sjampanje, vier waatlemoene en drie sakke lemoene.

Of dit ’n strategie is om sodanige opdragte in die toekoms vry te spring, kon ek nog nie met sekerheid vasstel nie. My geslag spring nog as mammie praat.

Wanneer vrouens inkopies doen, moet jy ligloop. Veral as daar tydnood is. Padtekens bestaan nie in winkels nie en inkopietrollies raak daarom dodelike projektiele, veral as winskopies naby is. Voor ’n vasberade en verbete vrou wyk enige wyse man.

Gelukkig maar van die rustige drankwinkel langsaan.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Nederland  |  Blomme  |  Kaas  |  Markte  |  Europa  |  Inkopies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.