Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vasbyt en sleep jou Ventertjie deur die storm
Esté Gross

‘It’s almost impossible to get hold of a one-way trailer,” sê my buurman met sy kenmerkend Amerikaanse aksent wat die “r” behoorlik inkrul aan die einde van sy sin. ’n Sleepwaentjie wat net Kaap toe gaan en nie terugkom­ Johannesburg toe nie, skop jy glo nie agter elke bos uit nie.

Die enigste een wat hy kon huur, is geroes en lendelam. Soos hy dit beskryf, klink dit soos ’n deurwinterde Venter-sleepwaentjie wat al lankal agter in iemand se erf vergete tussen die vrugtebome op ’n paar bakstene gaan aftree het.

Greg Green se huis is reeds leeg, nou net gevul met akoestiek en ’n paar bokse wat verwese rondstaan. Die afskeidspartytjie word gehou by die buurvrou se huis langsaan. Sy het moeite gedoen om ’n feestelike en kleurryke banier met die woorde “Sorry you’re leaving” op die muur te plak. Die pizzas en wyn staan gereed vir die lang kuier, wat eers saam met die laaste kers gaan verdof.

Ons klink die glase op die maat van die woorde “voorspoed” en “gesondheid”.

Die geykte groetwoorde “moenie jouself skaars en ’n vreemdeling hou nie” vul die lug, al weet almal van die “one-way­ trailer” wat reeds aan sy Hilux gehaak is.

Buurman vertel met die eerste vrag wat hy afgetrek het, is hy in die Vrystaat tussen Kroonstad en Bloemfontein, op die einste pad wat hom eers met ope arms ontvang het, oorval deur ’n storm wat skielik op sy swaargelaaide vrag neergevel het.

Die ontberinge wat elkeen op sy lewenspad ondergaan, is meestal onbekend aan ander.

Met geen skuiling of afdraai in sig nie, moes hy in die gietende reën stilhou om ’n seil oor sy besittings te trek. Met die wind van voor het hy met moeite die vrag op die pad gehou.

Ons het vroeër niks geweet van dié dramatiese tog nie, ons het net ’n foto van ’n salige sonsondergang oor ’n wolklose, kalm Gariepdam gekry.

Die ontberinge wat elkeen op sy lewenspad ondergaan, is meestal onbekend aan ander. Die foto­ word geneem wanneer die ketel kook en die bokse uitgepak is. Nie van die swaar vrag wat ons op pad daarheen moes getrek het nie.

Daar was ’n moeiliker pad wat iemand reeds vir my gestap het en wat my daagliks hoop gee.

Jesus het met hale op die rug en spottende woorde na die plek van kopbene gebeur, om die angel van die dood finaal met die kruis te gaan uithaal.

Hy het die bitter beker gedrink en kon water vir ’n bruilof in wyn verander.

Al vang blitse en stormweer my ook soms onverhoeds as ek op ’n lang en uitgestrekte pad vertrek, trek ek Sy seil oor my vrag.

Ek hou aan en stuur voort met die hoop en vooruitsig van ’n wederkoms en ’n tuiskoms, waar ek my geroeste Venter-waentjie eindelik sal afpak.

’n Goeie rede om nou ook die wyn te skink en vir mekaar sommer al padlangs die brood te breek.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser, joernalis en sangeres­.
Meer oor:  Esté Gross  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.