Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vasgevang in ’n volle leeftyd se weet en vergeet

’n Boom is ’n stuk wêreld / met sy hoofpaaie op sy bas. – Heldedade kom nie dikwels voor nie. Johan van Wyk.

Aniki Joseph

Pablo Picasso, Spaanse kunstenaar, het geglo dat ’n mens die instrument van die natuur is, of hy dit wil weet of nie. Geen mens kan die wette van die natuur teengaan nie. Leonardo da Vinci, Italiaanse kunstenaar en wetenskaplike, het gesê­ die natuur oortree nooit sy eie wette nie. Homerus, Griekse digter, het geskryf nes die geslag van blare, word so ook dié van manne op die aarde gestort deur die wind. Later sal die woud weer bot en só groei die een geslag van manne en eindig die ander een.

Ons besoek onlangs Cinema Nouveau in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria. Anthony Hopkins en Olivia Colman se uitmuntende vertolking van die karakters in The Father laat die bioskoopgangers vasgenael op hul sitplekke sit minute lank ná afloop van die rolprent. Die disoriënterende en surrealistiese tonele in die rolprent spreek boekdele oor die lewe met demensie. Dit is die verhaal van ’n eens onaf­hanklike­ pa wat tred met die werklikheid verloor en sy middel­jarige­ dogter tot uiterstes dryf wanneer hy weier dat ’n versorger na hom omsien.

Dit is dan in dáárdie oom­blikke dat hy sy ma onthou.

Die geleidelike verstandelike en funksionele agteruitgang van sy vermoëns, verwaarlosing van persoonlike higiëne, agterdog, weerstand, geheueverlies, vergeet van voorheen bekende roetes, kommunikasieprobleme en gemoeds­veranderinge word uitgebeeld in dié rolprent, wat gegrond is op ’n verhoogstuk van Florian Zeller.

’n Vriendin vertel van die fisieke en emosionele uitdagings wat die versorging van haar geliefde ma, ’n demensielyer, verg. Te veel gelyktydige opdragte skep verwarring en angs. Musiek en bekende voorwerpe van emosionele verknogtheid roep ou herinneringe op en kan oomblikke van helderheid en vreugde verskaf, maar soms ook hartseer en pyn.

In die rolprent het die demensielyer ’n fiksasie met sy polshorlosie. Hy voel in beheer solank hy dit aan sy arm kan sien. Dit bly ’n slagveld van vergeet en onthou, van onthou en vergeet.

Die Amerikaanse digter Walt Whitman het geglo dat die natuur op duisende maniere met ons praat en dat ons net ons oë moet oophou en met konsentrasie moet luister. In ’n aangrypende toneel aan die einde van die rolprent vergelyk die karakter homself met ’n boom wat besig is om al sy blare te verloor. Selfs van sy takke ook. Dit is net die stam en die wortels wat nog staan. Tog, in die bas van ’n boomstam is ’n stuk wêreld opgesluit. Met hoofpaaie. Dit is dan in dáárdie oomblikke dat hy sy ma onthou. Sy hoofpad. Haar liefde, warmte en beskutting. Dít bly sy hoofpad . . . en hy is heldhaftig genoeg om te weet dat dit nodig is om die versorger toe te laat om hom te versorg.

“Die eerste rededele wat mens leer / vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg / om die akuutste nood te formuleer / soos: ek het honger . . . hou van jou . . . is moeg.” – “Taalles”, Balans. Elisabeth Eybers.

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.