Kinders staan in lang rye om hul beurt op die wipplank te kry. Dit laat my dink aan hoe ons lewe tans soos ’n wipplankryery is.

Donald Katts
Die een oomblik ontvang ons goeie nuus, maar die volgende oomblik oorval slegte nuus ons. Eendag werk ons nog, die volgende dag sit ons sonder werk. Die een oomblik ervaar ons sukses, die volgende oomblik is ons teen die grond oor een of ander teleurstelling.
En nou, waar ons worstel met die Covid-19-pandemie, word ons ingeperk waar ons eens vry was om te doen en te gaan waar en wanneer ons wou. Ja, die een oomblik simpatiseer jy met ander oor die dood van hul geliefde, net om oomblikke later self getroos te word deur ander omdat jy self ’n geliefde aan die koronavirus verloor het.
Die wipplank-filosofie omtrent die lewe bied egter troos, juis omdat daar ewewig is en afhangend hoe ’n mens glo, bly een kant altyd bo. Paulus noem in Romeine 8:18 dat die lyding wat ons nou moet verduur nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Kommer, lyding, siekte en selfs die dood of die hartseer van ’n geliefde wat gesterf het, kan nie die krag van hierdie heerlikheid onderdruk nie.
Dit maak nie saak hoe gereeld die wipplank-lewe ons dán bo en dán onder het nie, want die heerlikheid wat God vir ons sal laat deurbreek, weeg op een of ander manier altyd swaarder en laat ons altyd weer uitstyg. Dit verhef ons bo die golwe van die bitterheid en onsekerheid.
Anders as die glyplank, waar jy net die genot kan hê om van bo af te gly, bied die wipplank die vooruitsig om van onder weer bo te kom.
Dit is daarom dat ons kan sing “môre sal die son weer skyn” in die vaste oortuiging dat die miswolke sal verdwyn. Ons sing dit met ’n glimlag deur die stormwind, want môre sál die son weer skyn.
Anders as die glyplank, waar jy net die genot kan hê om van bo af te gly, bied die wipplank die vooruitsig om van onder weer bo te kom.
Wanneer ons onder is, terneergedruk en amper oorweldig word deur die seer en ongeluk van die lewe, is en bly daar die vooruitsig om op te styg en weer vir ’n slag bo te wees – van die betere en mooier van die lewe te geniet, gerus te wees, vrede te smaak en ook die volheid van geluk te kan ervaar. Die daar-bo-wees-ervaring bied kennis, ondervinding en wyshede wat ons vir die daar-onder-wees voorberei.
Die daar-bo-wees-lewe help ons om te sien en te onthou wat ons dikwels en maklik in die daar-onder-wees-lewe vergeet.
Dit vorm en transformeer ons en gee ons hoop dat wanneer ons die onderkant van die lewe ervaar, ons weer kans gaan kry om bo te wees, om die bokant of die heerlike-kant-lewe te beleef.
Dit is hierdie hoop, die hoop-op-die-bo-lewe, wat ons krag gee om staande te bly wanneer ons onder is. En ook om ander te kan bemoedig in die vaste wete dat daar altyd hoop is.
- Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.