Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vat die boelies in ANC nóú vas

Pres. Cyril Ramaphosa se stadige reaksie op die uitlatings van Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, oor die Reserwebank se mandaat en planne van die party om dit te verander, het bloot die chaos en krisis vererger wat dit ontketen het.

Teen die tyd dat Ramaphosa gereageer het, was dit te laat en die skade was gedoen. Die rand het tot sy laagste vlak in maande teruggesak, maar dit kon ook met die skokkende inkrimping van die ekonomie in die eerste kwartaal – met ’n allemintige 3,2% – te doen gehad het.

Ramaphosa se stadige reaksie is tipies van sy reputasie as ’n weifelaar wat bang is om senior lede van sy party, soos Magashule, te repudieer. Hy het in sy reaksie Magashule se uitlatings weerspreek en sê die ANC is glad nie van plan om aan die Reserwebank se mandaat te torring nie.

Dit is wel geregverdig om te wonder waarom hy dae gewag het om te reageer en waarom hy nie Magashule se wanvoorstelling van die party se besluite onmiddellik weerlê het nie.

Maak geen fout nie, Magashule het presies geweet wat hy doen. Hy en sy geesgenote in die ANC is daarop uit om Ramaphosa te rysmier.

Maak geen fout nie, Magashule het presies geweet wat hy doen. Hy en sy geesgenote in die ANC is daarop uit om Ramaphosa te rysmier.

Hulle besef sy interne posisie in die party is nie so sterk nie. Hy is dus kwesbaar vir aanvalle wat die party en die land kan seermaak.

Magashule-hulle besef ook dat die Reserwebank ’n sensitiewe instelling is en dat enige onsekerheid oor die bank se onafhanklikheid en sy grondwetlik verskanste mandaat die markte kan ontstig en chaos kan veroorsaak.

Dit is presies wat gebeur het in die nasleep van Magashule se weergawe van wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se besluite was.

Vir hulle is die Reserwebank bloot ’n dienstige speelbal om politieke speletjies mee te speel. Die hand van wraak deur oudpres. Jacob Zuma is duidelik in Magashule se manewales te bespeur.

Ekonomiese sabotasie

Die gerekende ekonoom Iraj Abedian het in die lig van die verwikkelinge om die Reserwebank onder meer gesê Suid-Afrika het beweeg van ekonomiese beleidsonsekerheid na ekonomiese sabotasie.

Dit is harde maar waar woorde en hoe gouer Ramaphosa en sy ondersteuners in die ANC dit besef en dienooreenkomstig optree, hoe beter.

Dit is nie ’n kwessie van goedige meningsverskille nie, dit is ’n kwessie van oorlog. Hulle moet eenvoudig die geveg na Magashule en sy faksie neem.

Vat aan Ramaphosa en julle vat aan ons

Hulle kan dit doen met die wete dat hulle die publiek aan hul kant het. Ramaphosa moet moeite doen om sy wye openbare steun verder te kultiveer op so ’n manier dat dit ’n duidelike boodskap aan die ANC stuur, naamlik: “Vat aan Ramaphosa en julle vat aan ons.”

Die ANC wil baie graag hê ons moet die narratief glo dat daar “interne” ANC-sake is wat niks met die publiek te doen het nie. Wel, van daardie interne ANC-sake het uiteindelik ’n groot invloed op die lewe van die Suid-Afrikaanse publiek – meestal ’n negatiewe en skadelike impak.

Die publiek het dus die volste reg om hom met die sake van die ANC te bemoei, veral wanneer die party aan die posisie van ’n gewaardeerde staatshoof wil torring. Dit is tyd vir die publiek om aan die ANC te se: “Ramaphosa is weliswaar deur julle verkies as jul leier, maar hy is deur ons verkies as president van die land. Los hom uit!”

Ramaphosa moet die wekroep van die publiek hoor en hom begin gedra soos ’n man wat in beheer is. Hy moet uit sy hoekie kom en homself laat geld as die leier wat hy is.

Dit is tyd om die ANC-boelies vas te vat en aan die kaak te stel. Die tyd is nie later nie, maar nou.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Reserwebank  |  Ekonomie  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.