Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Veel sterker en meer nodig, CR

Pres. Cyril Ramaphosa moet nie verbaas wees nie as daar mense is wat skepties is oor sy verklaring dat hy “klaar is met korrupsie” en dat sy party, die ANC, as “beskuldigde nr. 1” in die beskuldigdebank staan wanneer dit by korrupsie kom.

Dit is baie sterk en kwaai woorde uit die mond van die president van die land en die regerende party. Maar ongelukkig klink dit soos met so baie dinge na te min te laat

Ramaphosa se uitsprake volg nadat die ANC in KwaZulu-Natal en, so vermoed ’n mens, ook Luthuli-huis onder toesig van die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, verseker het dat die omstrede voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede, aangestel is in die KwaZulu-Natalse wetgewer. Sy is onder meer uit haar pos as burgemeester verwyder ná bewerings van bedrog van meer as R200 miljoen.

As daar ooit ’n blatante uitdaging en uittarting van Ramaphosa se gesag was, dan is dit Gumede se terugkeer na die hoër ordes van leierskap.

Ramaphosa besef waarskynlik twee dinge wat baie waar is oor die ANC, naamlik dat die party wat ’n leidende rol gespeel het in die vestiging van die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika, die einste demokrasie en grondwetlikheid se grootste vyand geword het.

Gewone burgers sien deur die ANC en duld nie meer die party se skynheiligheid en oneerlikheid nie.

En tweedens dat gewone burgers deur die ANC sien en nie meer in die party se skynheiligheid en oneerlikheid glo of dit wil duld nie. Dit is die dood in die pot en kan ’n einde bring aan die party se rakleeftyd onder kiesers.

Ramaphosa besef waarskynlik dat indien die ANC by sy huidige koers hou, daar nie vir hom ’n toekoms is nie. Dit is die hartseer realiteit van wat geword het van die eens veel bewonderde maar al hoe meer gehate party van Nelson Mandela en Oliver Tambo.

Gumede en kie staan natuurlik sterk in die dampkring van oudpres. Jacob Zuma, die onbetwiste hoëpriester van staatskaping en al die korrupte ongurighede wat daarmee gepaardgaan. Dit moet dus nie verbaas dat Zuma se seun Duduzane vir Gumede gelukgewens het met haar aanstelling in die wetgewer nie. Wat kan volgende op haar wag – die Nasionale Vergadering, en van daar die kort sprong na die kabinet? Ons kan ten minste hoop dat Ramaphosa dit waarskynlik nie sal toelaat nie.

Zuma blyk vasberade te wees om sy posisie in die provinsie ten volle aan te wend om sy agenda – die ondermyning van sy aartsvyand – te stook.

KwaZulu-Natal is die ANC se grootste streek op grond van ledetal. As sulks is dit die ware doring in Ramaphosa se vlees, veral omdat Zuma se gewildheid daar nog hoog is.

Zuma blyk vasberade te wees om sy posisie in die provinsie ten volle aan te wend om sy agenda – die ondermyning van sy aartsvyand – te stook. Dit is ’n verbete stryd wat net sal eindig as een van die twee hoof-protagoniste – Zuma en Ramaphosa – bes gee.

Onthou, KwaZulu-Natal is die een provinsie waar Covid-19 die beste kans het om groot verwoesting te saai en opnuut kan toeslaan. Dit sal Ramaphosa se pogings om die virus te beveg verdeel en sy kanse verskraal om die politieke gevegte suksesvol te lei.

Gevra in ’n onderhoud oor waar Ramaphosa was toe Gumede na die wetgewer bevorder is, het Jackson Mthembu, minister in die presidensie, gesê die president was nie op kantoor nie.

Dit is nie goed genoeg nie. Die president moet sy verwerping van die stap deur die party in KwaZulu-Natal, en moontlik ook in Luthuli-huis, uitspreek. Hy moet Gumede openlik repudieer, asook almal wat haar in haar kwaad ondersteun.

Die president kan nie langer huiwer om die geveg teen korrupsie na die Zuma/Magashule/Gumede-koalisie te neem nie. Deur die ANC as “verdagte nr. 1” in die stryd teen korrupsie te verklaar is ’n dapper stap, ja, maar veel meer en sterker is nodig.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Korrupsie  |  Cr  |  Bedrog  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.