Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Veg soos Madiba, maar dié keer téén ANC

Daar is te veel van ons op die kantlyn, gemaklik in ons selfvoldaanheid en sinisme wanneer ons stemme gehoor moet word.

Dié woorde van oudpres. Barack Obama van Amerika eergister in sy spesiale Mandela-gedenklesing in Johannesburg moet deur hierdie gebroke land eggo.

Die groot vraag wat elkeen in Suid-Afrika hulself op Mandeladag moet afvra, is hoe ons, net soos Nelson Mandela, gaan optree om vrede en geregtigheid te bewerkstellig.

As ons dit aan die ANC, die regering en organisasies soos die Menseregtekommissie en openbare beskermer oorlaat, gaan ons misluk. Die ANC het op Mandela se rug die land geplunder en byna tot ’n val gebring.

Met Ace Magashule as die sekretaris-generaal in Luthuli-huis nadat sy bewind die Vrystaat as ’n verwoeste provinsie gelaat het, wag hier ’n nagmerrie op ons. Tensy ons opstaan.

“Kom ons soek vir sy krag. Kom ons soek vir sy grootheid van gees iewers in onsself,” het Obama gesê. Hy het gesê die strewe maak dat hyself ’n beter mens wil wees.

Maar beter mense moet ’n beter land bou. Anders gaan ons saam in ’n mooi droom ondergaan.

Maar beter mense moet ’n beter land bou. Anders gaan ons saam in ’n mooi droom ondergaan. Die meeste van ons het net gesit en kyk hoe Jacob Zuma en sy hiënas die Mandela-droom vernietig.

Ons moet die waghonde wees in ons woonbuurte, dorpe, stede en provinsies waar die ou orde in die ANC steeds besig is om te plunder. Die Vrystaat is nog lank nie van die kanker van Zumanisme bevry nie. Inteendeel, die meeste dorpe word deur dieselfde mense regeer wat onder Magashule se bewind van verskroeide aarde die provinsie gestroop het.

Ons moet by die Amerikaners leer hoe burgerlike aktivisme ingespan word om Donald Trump se lakeie aan te vat. Ministers en woordvoerders word uit restaurante verdryf weens die haat wat hulle namens Trump verkondig.

Dit is meestal vroue wat die bul by die horings pak om Trump en sy trawante aan te vat. Trump het die week gewys dat hy Amerika vir kameraad Vlad Poetien sal weggee vir ’n paar dollars in sy gatsak – net soos Zuma Suid-Afrika aan die Guptas én Poetien (!) verkwansel het. Maar min dinge is so boos soos Trump se omgewingsbeleid, wat toelaat dat bere en hibernerende ysbere gejag word.

Terwyl jagters in die deelstaat Wyoming gereed maak om die eerste keer in 44 jaar soveel as 22 bere te jag, span Jane Goodall en ander vroulike aktiviste saam om geld te bekom om ál die jaglisensies te koop. Só kan jy Trump teenstaan.

Ons sal hier moet opstaan teen ’n nuwe vlaag plundery, moord en ongeregtigheid. Begin om jou deel te doen om die armes by te staan. En jou mond oop te maak. Teiken die vet ANC-katte.

Doen wat Madiba gedoen het in ’n tyd van ongeregtigheid. Veg vir dit wat reg is. Altyd.

Meer oor:  Anc  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.