Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Veg terug teen hierdie terugvegpoging SA!
Llewellyn Prince

Gerugte dat geskorste en afgedankte hoofde van staats­ondernemings en hul politieke vennote wat by staatskaping betrek word, ’n terugvegpoging teen veral pres. Cyril Ramaphosa beplan, behoort kommerwekkend vir alle Suid-Afrikaners te wees.

Nie net kan dit misdade wat as deel van staatskaping gepleeg is, verder verdoesel nie, maar dit kan ook verhoed dat die miljarde rande teruggekry word wat van belastingbetalers gesteel is en nou die luukse lewenstyl van die voortvlugtige Guptas en hul vennote oorsee finansier.

Luidens berigte sluit dié terugvegpoging hordes hofsake in, asook ’n veldtog om simpatie by ANC-takke te kry om Ramaphosa se mag in die ANC uit te daag.

Alles om uiteindelik net hul eie basse te red. Daarom is dit uiters belangrik dat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, wat gister sy eerste sitting gehad het, presies uitvind hoe en wie almal die staat gekaap het.

Die beweerde vergrype is glo só kompleks dat die Valke, wat personeelgewys erg beperk is, die hulp van spesialisouditfirmas moes inroep om net die geldspoor na te speur.

Weens onder meer die #Gupta- Leaks-e-posse en adv. Thuli Madonsela se staatskapingverslag is daar ’n opvatting dat net oudpres. Jacob Zuma en die Guptas sentraal in die staatskaping staan.

’n Mens hoop daarom dat die Zondo-kommissie verdere lig sal werp op watter ander politici, senior bestuurders en direksielede van staatsondernemings, staatsamptenare, sakemense en selfs oudit- en konsultasiefirmas ook deel was van hierdie komplekse netwerk wat die staatskas geplunder het.

Staatskaping is inderdaad kompleks. Net verlede week het lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale Valke-hoof, tot die duidelike frustrasie van parlementslede gesê hul talle ondersoeke na staatskaping is ná meer as ’n jaar nog net in die beginstadium. Baie verdagtes is nog nie eens geïdentifiseer nie.

Die beweerde vergrype is glo só kompleks dat die Valke, wat personeelgewys erg beperk is, die hulp van spesialisouditfirmas moes inroep om net die geldspoor na te speur en te bepaal watter moontlike misdade deur hierdie gesofistikeerde sindikate gepleeg is.

Die naweek het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ook aan die sentrale komitee van die SAKP gesê hoe die grootmaat- “parasitiese” en onbeskaamde plundering van staatsondernemings soos Eskom, Transnet, die SAL, die Openbare Beleggingskorporasie en selfs die Inkomstediens van só ’n omvang is dat dít wat reeds bekend is, glo net die oortjies van die seekoei is.

Hopelik sal dié ondersoeke, sowel as die Zondo-kommissie, kan bepaal hoeveel miljarde rande in die straffelose Zuma-era weens staatskaping verlore gegaan het.

Die SAKP meen ook die terugvegpoging was te wagte gegewe die implikasies vir die betrokkenes.

Omdat dit nie net teen Ramaphosa gemik is nie, maar teen die hele Suid-Afrika, durf gewone Suid-Afrikaners nie so ’n terugveg­poging duld nie.

Dit is gemik teen alle Suid-Afrikaners wat geduldig wag dat elke sent wat deur staatskaping geplunder is en iewers in bankrekeninge oorsee versteek word, tot die voordeel van alle landsburgers terug­gevind word.

  • .
Meer oor:  Anc  |  Cyril Ramaphosa  |  Llewellyn Prince  |  Sa  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.