Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vele tale meer bedreig as Afrikaans

Van die 7 000 tale wat vandag gepraat word, sterf een elke 14 dae uit, skryf MC Botha.

MC Botha

Ek weet nie of iemand dit al agtergekom het nie, maar die Verenigde Nasies (VN) het verklaar dat 2019 die Internasionale Jaar van Inheemse Tale is.

Dié besluit is al in Desember 2016 deur die algemene vergadering van die VN geneem – ongelukkig so lank terug al dat meer as 100 tale op aarde sedertdien uitgesterf het. Van die 7 000 tale wat vandag gepraat word, sterf een elke 14 dae uit.

“Feite,” soos Jan van Oudtshoorn altyd sê.

Aan die ander kant is daar na raming 70 tale in die woude van Suid-Amerika wat nog nie eens beskryf is nie – net soos daar wêreldwyd tallose goggatjies, virusse en wie weet watter ander vorms van lewe is wat nie kan wag om deur die mens benoem te word nie.

Kry eers ’n naam, dán kan jy bestaan.

So het dit dan ook gebeur dat ’n groep linguiste wat navorsing in die Noorderlike Gebied in Australië doen, nou die dag op ’n spreker van die taal Amurdag afgekom het.

Die navorsers was by wyse van spreke uit die veld geslaan, want volgens die bestaande inligting het dié taal reeds uitgesterf. ’n Mens wonder eintlik hoe hulle geweet het die persoon praat Amurdag, en nie byvoorbeeld Afrikaans nie.

Na ’n oor-en-weer-gepratery (raar maar waar) kom die linguiste tot die gevolgtrekking dat die skepsel in der waarheid die heel laaste een op aarde oor is wat Amurdag praat.

Die nomade se omswerwinge deurkruis vyf verskillende state, dus bestaan daar nie so iets soos ’n moederland of vaderland vir hulle nie.

Maar hulle kon nouliks die persoon gryp en in ’n stoorkamer van die Living Tongues Institute for Endangered Languages in Salem, Oregon, gaan aanhou.

Synde bewese wetenskaplikes, besef die linguiste die penarie rondom politieke korrektheid wat die situasie vir hulle inhou, en verseg derhalwe om die geslag van die enkeling bekend te maak.

Daarop maak die buitewêreld die onafwendbare gevolgtrekking dat die persoon ’n man moet wees, want as die persoon ’n vrou was, sou hulle haar aldus kon identifiseer sonder vrees dat hulle van seksisme beskuldig word.

Dan is daar die Wodabee- of Mbororo-nomade wat in die sentrale Sahel-streek in noordelike Afrika rondtrek en in hul eie taal kommunikeer sonder om enigsins in die geskrewe vorm daarvan belang te stel, soortgelyk aan die meeste stamme in Afrika voor die koms van Westerse sendelinge in die 19de eeu. Die nomade se omswerwinge deurkruis vyf verskillende state, dus bestaan daar nie so iets soos ’n moederland of vaderland vir hulle nie.

Net die vindingrykstes onder hulle slaag ooit daarin om ’n geboortesertifikaat êrens in die hande te kry

Trouens, geen regering wil eens erkenning verleen aan hul aardse bestaan deur middel van wetgewing nie, soos hier ter plaatse darem met minderheidsgroepe die geval is. Basiese menseregte bestaan derhalwe nie vir hulle nie, om nie eens van kraanwater te praat nie. Hul waterbronne is inderdaad dieselfde as dié van hul bokke, skape, donkies, beeste en kamele.

Daarbenewens slaag net die vindingrykstes onder hulle ooit daarin om ’n geboortesertifikaat êrens in die hande te kry, wat beteken die meerderheid het nie ’n identiteitsdokument nie en sal dus nooit ’n paspoort kan bekom om ’n landsgrens oor te steek nie, indien hulle dit in die eerste plek wettig wou doen.

Voorts word hulle mediese sorg in staatshospitale ontsê, want hulle het geen bewys dat hulle ooit gebore is nie: ’n smet waarvoor daar geen burokratiese geneesmiddel is nie.

As die Uniegebou in Pretoria binne hulle bereik was, kon hulle by hul mede-nomade die Khoi-San op die golwende groen grasperke gaan kampeer en saam-saam vir beter dae gewag het.

* MC Botha is 'n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Verenigde Nasies  |  Mc Botha  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.