Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vennootskappe puik teenvoeter vir dié onregte

Internasionale ekumeniese instansies soos die Wêreldraad van Kerke het die laaste jare programme geloods met die fokus op die gemeenskap en vennootskappe tussen vroue en mans in die stryd teen euwels soos patriargie en geweld teen vroue en kinders. Die idee is dat mans en vroue vennootskappe vorm vir gendergeregtigheid.

Jare gelede het die Duitse teoloog Jürgen Moltmann gepleit vir wat hy noem ’n “masculine theology of liberation”: Mans moet vanuit geloofswortels hul verbind tot die stryd teen patriargie en geweld teen vroue. Talle vrouedenkers nooi ook mans om aktief betrokke te wees in die stryd teen diskriminasie en geweld teen vroue en om selfs die inisiatief te neem.

Hierdie diskriminasie geskied op bewuste en onderbewuste, kru en subtiele, sigbare en verskuilde wyses. In hul Intersectional Theology, pleit die feministiese teoloë Grace Ji-Sun Kim en Susan Shaw vir ’n stryd om gendergeregtigheid wat die interseksionaliteit en interverweefdheid van vorme van diskriminasie in ag neem, onder meer diskriminasie op grond van gender, kleur, sosio-ekonomiese posisie en seksuele oriëntasie.

Mans voel dikwels hulle word monddood gemaak in gesprekke oor gendergeregtigheid. Die gedagte dat vroue se ervaringe en kennis oor gendergeregtigheid voorkeur moet geniet, laat sommige mans bedreigd voel.

Hulle vergeet dan die gesigspunt van die Peruaanse bevrydingsteoloog Gustavo Gutiérrez wat redeneer dat benadeeldes in geregtigheidstrewes aanspraak kan maak op primêre aandag, maar nie uitsluitlike aandag nie. Hoewel mans se stemme nie voorkeur moet geniet nie, moet dit wel ook aandag geniet.

Mans moet ook onthou hoe baie vroue ons betrokkenheid en vennootskap in die strewe na gendergeregtigheid waardeer.

Mans moet ook onthou hoe baie vroue ons betrokkenheid en vennootskap in die strewe na gendergeregtigheid waardeer. Ek het nog net omarming geniet by forums waar vroue gesprekke en inisiatiewe oor gendergeregtigheid lei. Soortgelyk is dit vir my van die aangenaamste ervaringe as wit mense die inisiatief neem in die strewe na kleurdiversiteit.

Vennootskappe in die stryd teen onregte kan baat vind by die insig van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer in sy boek Life Together: “Beware of the person who cannot be together; beware of the person who cannot be alone.”

In die vennootskap tussen mans en vroue moet daar ruimte wees vir gesamentlike inisiatiewe, asook vir afsonderlike geleenthede. Soms moet vroue en mans afsonderlik vergader en besin, ten einde die gesamentlike inisiatiewe ten beste te dien. Dit moet op só ’n wyse hanteer word dat dit nie die groter eenheid en samewerking belemmer nie.

Dalk kan ons sommer al in hierdie Vroue-maand reeds met vroue beraadslag oor watter inisiatiewe vir gendergeregtigheid ons as mans kan loods in vennootskap met vroue.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Geweld Teen Vroue  |  Kerk  |  Geloof  |  Geweld Teen Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.