Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verbied vrees wanneer jy ’n besluit neem
Esté Gross

Vrees is soos muurpapier. Dit kan makliker afgetrek word as wat jy dink. Dít is iets waaraan ek myself gereeld herinner as ek voor ’n kruispad te staan kom en ’n besluit moet neem.

Dit is die soort besluit wat die koers van jou lewe kan verander. Selfs die voordele- en nadelekolom kan net soveel help, want soms weeg die vier voordele vir jou persoonlik meer as die agt nadele.

Dit voel of jy staan voor die Nederlandse abstrakte skilder Piet Mondrian se werkBroadway Boogie Woogie.

En om dan die balans tussen jou kop en hart te vind is ’n kuns.

Volgens Malcolm Gladwell se boek Blink kan jy partykeer al die tyd in die wêreld neem om deur deeglike navorsing ’n besluit te neem, net om uit te vind dat jou vinnige instinktiewe besluite ironies meer dikwels die regte een is. Om ’n besluit te neem, kan daarom ’n ingewikkelde storie raak.

Vir die vergadering van besluitneming beveel ek dus aan dat vrees die kamer verbied word. Sê-nou-maar moet ook maar min ’n spreekbeurt kry. Hy is gans te bekkig. Hy kan maar so nou en dan – vir nugterheidsonthalwe – sy opinie lug, maar hy durf nie ’n lewe hiet en gebied nie. En hy moet maar aanvaar dat alles nie voorspel kan word nie.

Vrees is soos muurpapier. Dit kan makliker afgetrek word as wat jy dink.

Net soos die uitbreking van ’n koronavirus, ’n natuurramp en die wisselvallige rand.

Ek dink die beste manier om ’n nugtere en optimistiese besluit te neem, is om terug te gaan na ’n tyd toe “En-toe” die voorsitter van die besluitkomitee was en “Sê-nou-maar” nog nie die leisels oorgeneem het nie.

Die tyd toe jy as kind nog nie die kans gehad het om ’n allemintige woordeskat van vreeswoorde van versekerings- en risikobestuur op te bou nie – en jy nie ’n saak gehad het met die petrolprys wat styg of daal nie. Jou ma sal jou mos in elk geval by die skool kom haal.

Audrey Blignaut se Plesierboom wat onlangs deur Antoinette Pienaar op die radio voorgelees is, het my weer herinner aan ’n boom wat ek eens goed geken het.

Onder die koel Laeveldboom met die lekkerlê-mik was jy veilig en het jy kans gesien om groot moontlikhede te bedink . . . Vrees was nog ’n vreemdeling.

As graadeentjie kon ek nie wag vir pouse nie. Ek het dan gehardloop om my maats onder die verbeeldingsboom te kry. Enige iets kon hier gebeur en as die storielyn nie uitwerk nie, het jy bloot ’n ander wending geneem met die hulp van “En-toe”.

Nie alle stories werk uit nie, maar hulle kan verander word.

Dromers moet dapper genoeg wees om vreesaanjaende muurpapier van die mure te stroop – en gló dat deure nooit gesluit is nie, maar bloot wag om oopgestoot te word.

Meer oor:  Esté Gross  |  Vrees  |  Woorde  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.