Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verbrande trourok ruik nie soos braaibroodjies

Party geskeide vroue verbrand hul trourokke terwyl ander egskeidingspartytjies hou waarop hul vriendinne die gewraakte rok met waterpistole vol gekleurde water kan bydam. Erla-Mari Diedericks skryf oor wat sy met haar trourok gaan doen.

Erla-Mari Diedericks

Nou die dag stuur sy vir my ’n foto van haar trourok. Sommerso op die houtvloer afgeneem. Darem opgevou. Maar nogtans.

Ek onthou hoe opgewonde sy oor daardie rok was. Hoe lank terug is dit nou? Ek is 54. Ons was toe 24 jaar oud. Wel. Dit is ’n lang tyd om getroud te wees.

En hoe het my pa altyd gesê? Alle goeie dinge kom tot ’n einde. Slegte dinge ook. Soos ’n huwelik van 30 jaar. En daar sit sy. Die gesinshuis uiteindelik uitverhuur en oorgehaal om by ’n enkelwoonstel in te trek.

“Dit is die einde van my gesin. Dis die einde van als.”

Ek probeer verduidelik dat ’n gesin (haar twee kinders) vir altyd is. Dat dit ’n nuwe, vars begin is. Maar ek weet sy sal eers later verstaan.

Dit trourok gaan vullisdrom toe, verklaar sy. Reguit vullishoop toe waar dit soos die “Lappop”-liedjie uit ons kinderdae sal lê en saam met die vrot pampoen en ’n stukkende skoen sal vereensaam.

Het jý nog jou rok? vra sy. Natuurlik het ek nie meer my rok nie! Ek is nie sentimenteel nie. Ek trek weg, gooi weg, gaan aan. Boonop is ek al 15 jaar geskei. Dit sal uiters vreemd wees as ek nog die rok het. Om nie te praat van tragies nie.

Wel, oepsie . . .

Blykbaar hét ek nog steeds my trourok. Ses onderrokke en al.

’n Naelstring in ’n kas

My liewe ma het die rok in haar trousseau-kis gebêre. Saam met motbolletjies.

Eintlik is ek glad nie verbaas nie. My ma is sentimenteel. Gaar alles op. Toe ek die dag swanger raak, het sy opgewonde aangekondig dat sy nog my naelstring het. Iewers verpak in ’n botteltjie in die kas van my ou kinderkamer. Ná ’n uur of wat het sy teruggebel. Nee, sy moet dit dalk maar weggooi, want dit ruik vreemd.

Die ironie en simboliek van die aanneemma wat die naelstring, wat aan my regte ma geheg was (seker die naaste wat ek ooit sal kom om aan my regte ma te raak), 33 jaar lank in ’n kas weggebêre het, het my nie ontgaan nie.

En nou dít. Die rok is nog daar. ’n Ligpienk herinnering aan geluk wat eintlik maar net een dag geduur het.

Daar is een vrou wat haar rok aantrek en dan foto’s van haarself op interessante plekke neem.

Moet ek lag of moet ek huil? Tog. Dit is ’n pragtige rok. Ek is eintlik bly ek het dit nog. Maar nee, hel! Sy kan nie netso in ’n kis tussen motbolletjies lê en vergaan nie! Ek moet ’n plan maak met haar!

Ek kyk na die video’s op die internet oor wat geskeide vroue als met hul rokke aanvang. Daar is een vrou wat haar rok aantrek en dan foto’s van haarself op interessante plekke neem. Eers het sy haarself op al die plekke met goeie herinneringe van haar kinderdae laat afneem – om so die slegte herinneringe van haar egskeiding uit te wis.

Die rok – wat deesdae beroemd is en selfs haar eie Instagram-rekening het – ry nou saam in die motor rond, en as die voormalige bruid op ’n mooi plek kom, spring sy uit, trek die rok sommer oor haar klere aan en kiek ’n foto.

’n Egskeidingspartytjie

Dit sal nie vir my werk nie, want ek kan nie eens meer my een been deur my rok kry nie. Daai rok is ’n 10. Ek is nou . . . wat? Beslis nie ’n 10 nie.

Ek soek verder. Vroue verbrand hul rokke. Ek wonder hoe ruik ’n trourok wat brand? Seker nie soos braaibroodjies nie. Ander vroue hou egskeidingspartytjies en hul vriendinne kan dan die rok met waterpistole vol gekleurde water bydam en dit in ’n kleurryke gemors omtower – baie soos die huwelik self.

Daardie rok simboliseer hoop, dogtertjie-drome, liefde (van ouers wat die rok ten duurste gekoop het) en selfs ’n prinses-illusie of drie!

Daar is vroue wat die rok opsny, weggee, op Halloween-partytjies dra, of dit kleur en weer dra as ’n aandrok. Jy kan natuurlik ook die rok aan liefdadigheidsorganisasies soos The Angel Gown skenk, waar jou trourok in ’n begrafnisrokkie verander word vir babas wat nooit hul lewensreis voltooi het nie. Of jy kan jou rok as ’n matriekafskeidrok aan organisasies soos The Princess Project skenk.

Ek gaan my rok hou. Dalk wil my stiefdogter dit hê. Of my aanstaande skoondogter. Dalk selfs ’n kleindogter – of kleinseun. Daardie rok simboliseer hoop, dogtertjie-drome, liefde (van ouers wat die rok ten duurste gekoop het) en selfs ’n prinses-illusie of drie!

My huwelik het dalk nie gehou nie, maar die rok het. My drome, hoop en liefde is nog nie dood nie.

*Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.