Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verbystering met teken van vredesdokument
Fransjohan Pretorius

Een van die hoogtepunte van my lewe was die aand van 31 Mei 2002, toe ek – presies 100 jaar ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in die eetkamer van Melrose-huis in Pretoria – in daardie einste vertrek ’n lesing oor die vrede gegee het.

Die vertrek was volgepak. Ek het vooraf die stukkende, oorspronklike horlosie in die vertrek se wysers op vyf oor elf gestel, die tyd die aand van 31 Mei 1902 toe die eerste handtekening op die vredesdokument geplaas is.

Halfelf die aand het ek, staande by die groot tafel waar die vrede geteken is, voor die grootoog-gehoor begin met my lesing.

Die redes vir die vrede, die samesprekings van die 60 Boere-afgevaardigdes by Vereeniging vanaf 15 Mei 1902, die heen-en-weer-argumente, uiteindelik die besef hulle kán nie met die stryd voortgaan nie, en die stemmery van 54 vir en ses teen die doodsklok-verlies van hul onafhanklikheid . . .

Skuins voor elf het ek vertel hoe die tien Boereleiers by Melrose-huis aangekom het en na die eetkamer begelei is. Daarna het lords Kitchener en Milner as verteenwoordigers van die Britse regering binnegekom.

There was no mistaking the fact that some of them felt it deeply, with all their characteristic self-possession.

Daardie aand het ek die drama-muse gevra om op my skouer te kom sit. En so het ek al lopend om die tafel verduidelik waar elkeen sy sitplek ingeneem het – Milner en Kitchener aan die hoof, die venster agter hulle, die ZAR-lede aan Milner se linkerkant, en die Vrystaatse lede regs van Kitchener.

By elke stoel het ek stilgestaan en vertel wat hierdie man se rol in die oorlog was, en waarom hy daar was.

Dit is vyf oor elf. Ek vertel hoe waarnemende pres. Schalk Burger van die ZAR eerste teken. Dan staatsekretaris F.W. Reitz. In ’n dramatiese gebaar staan hy op, en pen opgehef in die hand verklaar hy plegtig dat hy sy naam as staatsekretaris teken – nie as F.W. Reitz nie.

Dan is dit die beurt van komm.genl. Louis Botha, genl. Koos de la Rey, genl. Lucas Meyer, en J.C. Krogh aan die onderpunt van die tafel. Die dokument word oorgeskuif na die waarnemende Vrystaatse president, Christiaan de Wet.

Milner het waarskynlik ook na hóm verwys toe hy later daardie aand aan ’n vriend skryf: “If anyth­ing could make me relent towards Boers, it was the faces of some of the men who sat round the table to-night. There was no mistaking the fact that some of them felt it deeply, with all their characteristic self-possession.”

Vervolgens teken genl. Barry Hertzog, dan waarnemende goewermentsekretaris W.J.C. Brebner. Genl. C.H. Olivier teken laaste namens die Boere.

Ten slotte teken Kitchener as “Kitchener of Khartoum”, en Milner slegs: “Milner”.

Aangrypend lui die notule: “Die dokument was geteken. Alles was stil in die vertrek. Nog het almal vir ’n oomblik stilgesit. Toe staan die lede van die Regerings van die nou gewese Republieke asof verbyster op om die vertrek te verlaat.

“Lord Kitchener gaan van die een na die ander en bied elkeen sy hand: ‘We are good friends now!’ sê hy.” Vriende. Maar ’n vrede sonder vryheid.

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Vryheid  |  Oorlog  |  Vrede  |  Geskiedenis  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.