Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lydsaamheid in ’n wêreld van misplaaste handelsname

In dié tyd van beheptheid met Kersprodukte, kan Rhynie Greeff maar net glimlag en dinge wat uit plek is met Arabiese verdraagsaamheid beskou.

’n Les in godsdienstige verdraagsaamheid – Kersfees in Abu Dhabi. Foto: Rhynie Greeff

Die Verenigde Arabiese Emirate het streng alkoholwette met net 17 drankwinkels in die hele land waar nie-Moslems alkohol mag koop.

Vroeër vandeesmaand, op pad na Abu Dhabi, stap ek by so ’n winkel in om wyn as Kersgeskenke vir die familie in Dubai te koop. En wraggies, daar in die middel van die winkel in die snikhete woestyn staan ’n kunsmatige sneeuman met ’n geelwortelneus en takkies vir hande op nagemaakte sneeu by ’n Kersboom.

Dit was ’n les in godsdienstige verdraagsaamheid en die skenkingsgees van Kersfees.

Geen ordentlik kuise Spaanse of Latyns Amerikaanse hombre sou ’n Pajero as geskenk wou hê nie.

Die dag daarna in Dubai dink ek so by myself hoe wonderlik ’n nuwe motor as geskenk vir myself sou wees en daar verbrand ek amper my vingers met een van Elon Musk se Tesla-motors. Nee, nie finansieel nie. Ek het buite die Tesla-vertoonlokaal aan ’n Tesla se deurhandvatsel van chroom geraak. Onder die skroeiende Arabiese son het my vingers amper aan die chroom vasgebrand. Dit is blykbaar ’n algemene probleem met Teslas dat jy in sekere somergebiede oondhandskoene nodig het.

Toe vertel my aanstaande Spaanse skoondogter, wat ook in Dubai woon, my van hoe Mitsubishi in Spanje hul vingers met die Pajero verbrand het, want geen ordentlik kuise Spaanse of Latyns Amerikaanse hombre sou ’n Pajero as geskenk wou hê nie. Die Spaanse woord “pajero” beskryf ’n entoesiastiese man wat homself – verleë kuggie – chronies met sy persoonlike handvatsel bevredig.

Mitsubishi moes ’n ander naam vir die Pajero kry en nou ry Spaanse hombres Monteros. (Ja Tannie Sus, ek weet dit klink ook ’n bietjie hingserig oorplesierig, maar ’n montero is ’n jagter. Sonder die letter “s”.)

’n Letter wat nie bestaan nie

Vanjaar sal videospeletjies weer belangrike Kersgeskenke wees maar, oeps, die multinasionale Japanse videospeletjiemaatskappy Sega het ook ’n Pajero-tipe probleem. In Italië is die woord “sega” die woord vir ’n saag, maar dis ook die woord vir daardie ou wat so plesierig met sy handvatsel speel. Mamma mia! Dis allermins die soort speletjie wat Sega van Japan bemark.

In die 1970’s het Ford ook nie in Brasilië Kersfeeste met die destydse Ford Pinto oorrompel nie. In Brasiliaanse Portugees is “pinto” die woord vir klein manlike geslagsorgaan. Oeps in ’n hoë stemmetjie.

Nog ’n lagwekkende storie oor ’n motornaam was Mitsubishi se Starion wat, volgens Jeremy Clarkson en ander kenners, oorspronklik, as die Stallion geloods moes wees om met die Ford Mustang mee te ding.

Die Chevrolet Nova was nog ’n kar wat ’n swak geskenk in Spaanssprekende lande was.

Die letter “l” bestaan nie in Japannees nie en blykbaar het ingenieurs by Mitsubishi se uitspraak van die woord Stallion by die internasionale bemarkingsarm as Starion oorgekom. Toe die fout ontdek is, was die bemarking reeds te ver gevorderd en het die Starion se naam bry, jammer, bly, staan.

Die Chevrolet Nova was nog ’n kar wat ’n swak geskenk in Spaanssprekende lande was. Die Nova is uitgelag, want “nova” is Spaans vir “no go” in Engels. Miskien moes dit ’n Chevy Vamos (“ons gaan”) gewees het.

Van 1999 tot 2006 was daar ’n Mazda Laputa op die mark wat nogal 'n jammerte vir Mazda was. Ek neem Spaanse taalklasse in Stellenbosch en in Spaans beteken “la puta” ongelukkig “die hoer”.

Ek kan my indink in wat Carmen haar man Pablo sou toesnou as sy so ’n geskenk sou ontvang.

Khloé se handsak en ander handelsname 

Die berugte Kardashian-handsak. Foto: Twitter

Ek was in die 1990’s in die telekommunikasiebedryf en het gewerk met ’n gesamentlike onderneming tussen General Electric en Plessey, genaamd GPT. Dit was nogal grappig, want ek het in my diplomatieke tyd voorheen Frans leer praat en in Frans word GPT uitgespreek as “j’ai pété” oftewel, in versigtig korrekte Afrikaans, “ek het ’n wind gelos”.

Dié soort van foutjies sluip ook maar oral in.

Khloé Kardashian, die TV-werklikheidster en mode-ikoon, het vanjaar aan meer as 74 miljoen Instagram-aanhangers ’n handsak bekend gestel wat spesiaal vir haar ontwerp was. Ongelukkig is haar volle name Khloé Alexandra Kardashian en, met daardie voorletters, het sy trots aan die wêreld haar handsak vertoon met die reuseletters K.A.K. daarop. (Jammer Tannie Sus, ek kan nie die handsak as K*K spel nie want Khloé se tweede naam is nie *lexandra nie en my woordeboek het nie die woord k*kkerlak nie.)

In Amerika is daar ’n onderneming genaamd K.A.K. Industry wat jaarliks 1,75 miljoen geweerkomponente vervaardig. Op hul webwerf verkoop hulle uitsonderlike produkte soos hul geweer-herlaaier die 9x39 Wolf K.A.K. en ’n mooi reeks K.A.K.-geweerlope. Lekker geskenke vir ernstige jagters.

Kan ’n mens dit eet?

Rhynie Greeff

In Ga, ’n Ghanese taal, is die woord vir swart peper “shito”. Ghanese geniet gesonde porsies shitosous wat bestaan uit vis- of groente-olie, gemmer, gedroogde vis, garnale, knoffel en peperspeserye. Ja, in Ghana is daar lekker shito vir enige feestyd.

Jammer Tannie Sus, ek is nog nie kl**r nie.

In Maleisië is daar ’n bekende dis genaamd char koay kak (gebraaide reiskoek) en Kuala Lumpur, Maleisië se hoofstad, spog met hordes kakrestaurante soos Kak Julia, Kak Ida, Warung Misup Kak en Kak Mah Selera.

In Japan kan jy ’n wye reeks kinderklere vir die Kersboom aanlyn koop met die modieuse naam K.A.K. As jy in Rusland iemand wil vra hoe dit gaan, sê jy net “kak dyela” en in Phnom Penh, hoofstad van Kambodja, is die Boeung Kak-meer ’n klompie jare gelede gedreineer en omskep in die beboude voorstad Boeung Kak.

Swede het K.A.K., wat staan vir Kungliga Automobil Klubben oftewel Koninklike Automobielklub. Ek merk op dat Swede se K.A.K. baie mooi herlaaibare brandewynbottels met hul logo daarop verkoop. Slim produkte vir vanjaar se Kersboom.

Van slim gepraat, daar is iets wat my pla aan die organisatoriese naam van Mensa, die internasionale organisasie vir mense met hoë IK’s met sy 134 000 wêreldwye lede. Daar is miskien ’n ingeboude domheid in Mensa want, as jy in Spaans na ’n vrou verwys wat onnosel is, is sy mensa. ’n Onnosele ou is menso. ’n Spaanssprekende vrouelid van Mensa is dus slim, maar ’n dom Spaanse vrou is ook mensa. Erger nog, die woord vir organisasie is in Spaans ’n vroulike ding en dus is die Mensa Internasionale Organisasie wat die Spaanse woord mensa betref ook onnosel.

’n Mens kan maar net glimlag en dinge wat uit plek is met Arabiese verdraagsaamheid beskou.

Maar nou ja, in Spaans word die woorde “die handelsmerk” ook vertaal as vroulik, “la marca”.

Handelsname, vroulik, is dus oor taalgrense effens mensa – van Pajero, Starion, Pinto en Nova tot die Sweedse Koninklike Automobielklub se bottels en modieuse Kardashian-modes. Eintlik is die beheptheid met Kersprodukte vir my ook mensa.

’n Mens kan maar net glimlag en dinge wat uit plek is met Arabiese verdraagsaamheid beskou.

Ek kan maar net wens Julius Malema en sy aanhangers kan hierdie Kersfees ’n geskenk van Arabiese verdraagsaamheid onder die groter spreekwoordelike Kersboom plaas. Ons kort meer slim Mensa-optredes.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en ouddiplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Julius Malema  |  Elon Musk  |  Khloé Kardashian  |  Rhynie Greeff  |  Spanje  |  Dubai  |  Swede  |  Brasilië  |  Italië  |  Abu Dhabi  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.