Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verdwene ‘hert’ maak my eerder dapper Dopper

Geharde Doppers sal dit natuurlik ontken, maar ek hoor by van my meer verligte Doppervriende hulle mag dit nou geniet om te dans. Vroeër mog hulle mos wel dans, maar dit was sonde om dit te geniet.

Wys jou hoe die wêreld verander het.

Hoewel dit eintlik ’n teenstelling is. Dis nie die wêreld wat verander nie, maar mense.

Dis nie al nie. Ek het onlangs op uitnodiging ’n erediens in ’n Gereformeerde Kerk bygewoon en lekker saam met die Doppers gesange uit die kerk se Liedboek gesing. Vroeër is mos net Psalms in die Gereformeerde Kerk toegelaat.

By die teetafel ná die diens het ’n mooi vrou vir my geknipoog: “Ons Doppers word nou cool, né!”

Nie dat die Gatjieponders agterbly nie.

’n Week later het ek in my eie NG gemeente aanskou hoe ’n jong vader, nie in swart skoene en ’n kispak met ’n benoude dasknopie onder sy keel nie, maar in ’n kortbroekie, T-hempie en tekkies sy skatlike babadogtertjie ten doop bring. Die hoorbare asemteug wat deur die kerk getrek het, het hom nie in die minste ontstel nie. Ook nie die suigeling nie. Sy was so stil soos ’n muis toe die predikant haar met water besprinkel.

Dit het my laat terugdink aan hoe ons babaseuntjie 41 jaar gelede probeer het om die Tweetoringkerk in Bloemfontein se dak man-alleen te lig.

By die teetafel ná die diens het ’n mooi vrou vir my geknipoog: “Ons Doppers word nou cool, né!”

Maar darem nie so dat die leraar hoef terug te gestaan het nie, soos toe ’n bedorwe pokkel wat lankal gespeen moes gewees het in die ou Sendingkerk op Williston voor die doopvont ’n keel opgesit het. In ’n poging om hom stil te kry het sy ma haar rok bolangs oopgeknoop en gedreig: “Vat die pram, of ek gee hom vir die predikant!”

Om dié moontlikheid te ontwyk het die leraar vinnig ’n tree of wat opsy gestaan.

Wat my opnuut ontstel het, was om vir die soveelste keer in ’n kerk net ’n enkele ouerpaar met ’n baba voor die doopvont te sien.

Klaarblyklik weg is die dae toe doopouers gereeld ’n kerk se skip in ’n halfmaan volgestaan het. Selfs met ’n oorstootdrie in beseringstyd.

Die gefluit van stoomtreine het mense toe snags wakker gemaak. Nou word hulle snags deur vrese oor hul kinders en kleinkinders se toekoms in Suid-Afrika wakker gehou. G’n wonder dat wit Afrikaanse mense teen 2030 slegs 1,8% van die bevolking sal uitmaak nie.

Maar die pragtige, digterlike psalms van weleer. Toe die predikant ’n paar druppels water oor die enkele dopeling se hofie giet, het Psalm 42 uit die ou Psalm- en Gesangeboek by my opgekom. Ek hoop die Doppers hou aan om dit te sing en nie die nuwe weergawe in die Liedboek nie, waarin die mooi woord, “hert” (“soos ’n hert in dorre streke”) ’n “wildsbok” en die ewe beskrywende “waterbeke” toe “helder water” geword het. Vir wat?

Ek word sommer ’n dapper Dopper!

Meer oor:  Menings  |  Dans  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.