Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verhaal van die rebellie van 1914-’15
Generaal Christiaan de Wet kort nadat hy in Desember 1915 uit die tronk vrygelaat is. Foto: M.C.E. van Schoor, Christiaan Rudolph de Wet

Dalk het u Jan van Melle se roman Bart Nel gelees wat die Afrikaner-rebellie van 1914-1915 as tema het. Dan weet u die Rebellie was ’n opstand van sowat 11 300 Afrikaner-nasionaliste teen die regering.

Die offisiere aan weerskante was

Boeregeneraals wat saam in die Anglo-Boereoorlog geveg het.

Met die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog in 1902 het die Boererepublieke hul onafhanklikheid verloor en deel van die Britse ryk geword. Volgens mondelinge oorlewering het Louis Botha en Jan Smuts vir Christiaan de Wet oorgehaal om die vrede te aanvaar omdat hulle hul kans sou kry om die republieke te herstel wanneer Brittanje in ’n oorlog betrokke raak.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 versoek Brittanje Suid-Afrika om Duits-Suidwes-Afrika te beset. Daartoe is eerste minister Botha vanweë sy versoeningsbeleid bereid. Die Parlement besluit met 94 stemme teen 12 op ’n inval in Duits-Suidwes-Afrika.

Op 15 September bedank Christiaan Beyers as hoof van die Unieverdedigingsmag. Hy en waarskynlik Koos de la Rey hoop ’n gewapende protes sonder geweld sal Botha laat afsien van sy voorgenome inval. Jan Kemp en De Wet dink aan meer as gewapende protes om hul republieke terug te kry. Hulle het niks teen Duitsland nie, en is steeds bitter oor die nederlaag teen Brittanje in die Anglo-Boereoorlog.

De la Rey sterf op 15 September per ongeluk in ’n polisiepadblokkade wat op soek is na ’n bende misdadigers.

Soos Kemp in Wes-Transvaal organiseer De Wet die Nasionaliste in die Noordoos-Vrystaat om te rebelleer. Baie (maar beslis nie almal nie) is arm bywoners wat niks het om te verloor nie.

Baie hoop die herstel van die Boererepublieke sal vir hulle grond besorg.

Op 10 Oktober begin die Rebellie toe Manie Maritz in die Noordwes-Kaap met die meeste van sy regeringstroepe na Duits-Suidwes-Afrika oorloop. In Transvaal gaan die kommando’s van Kemp, Chris Muller en Jack Pienaar in November oor tot rebellie, maar word gou krygsgevange geneem. Onder hulle is

Jopie Fourie in sy weermaguniform, wat eers kaptein in die burgermag was, en nie daaruit bedank toe hy rebelleer nie. Hy word deur ’n vuurpeloton tereggestel. Dit veroorsaak groot bitterheid onder Afrikaner-nasionaliste, omdat Smuts as minister van justisie nie bereid is om hom te begenadig nie.

In November raak De Wet by drie geleenthede slaags met die regeringstroepe. By Mushroom Valley oos van Winburg voer Botha persoonlik die regeringstroepe aan. Boeregeneraal teen Boeregeneraal.

Beyers rebelleer ook, maar wil nie in gevegte met regeringstroepe betrokke raak nie. In ’n poging om van die regeringsmag te ontsnap, verdrink hy in

Desember in die Vaalrivier.

Die rebelle ly gebrek – hul klere is verslete, hulle het nie kos, wapens of ammunisie nie. Hulle plunder winkels, en moet ná die Rebellie £257 000 terugbetaal, wat met die Helpmekaarfonds moontlik gemaak word.

By Virginia word De Wet se mag uiteengejaag. Hy vlug te perd, klaarblyklik om by Maritz aan te sluit. Op 1 Desember word hy naby Vryburg gevang.

Kemp vertrek met ’n perdekommando na Maritz. By hom is Siener van Rensburg, wie se visioene in die Anglo-Boereoorlog hom beïndruk het. Maar einde Januarie 1915 word Maritz en Kemp deur kolonel Jaap van Deventer by Upington verslaan. Maritz vlug na Angola.

Die Rebellie was verby. 190 rebelle het gesneuwel en 300 is gewond. Regeringstroepe: 132 gesneuwel en 242 gewond. Die Rebelle-leiers het tronkstraf gekry, maar is spoedig vrygelaat. Die Rebellie het diep wonde in die Afrikanerpsige geslaan. Afrikaner-nasionaliste het hul strewe na ’n republiek daarop gebou.

En soos vir Bart Nel, was dit ’n verhaal van ontnugtering en verlies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.