In die finale aflewering oor die Groot Afrikaanse Meningsopname kom heelwat onderwerpe aan die beurt. Lees meer op Netwerk24 in die vorige aflewerings oor politiek en taal. Barnard Beukman doen verslag.
Dit is ’n ja vir veelrassige verhoudings onder die meerderheid deelnemers, hoewel groter weerstand en verdeeldheid onder wit deelnemers aangedui word.
Altesame 79% van bruin respondente stem volkome met sulke verhoudings saam en 18% stem gedeeltelik saam. Net 3% is daarteen gekant.
Onder wit deelnemers stem 24% volkome daarmee saam en 32% gedeeltelik. Diegene wat daarmee verskil, is 22% en ’n verdere 22% verskil sterk daarmee.
Onder wit deelnemers dui 45% aan hulle het huisvriende van ’n ander rasgroep. Dit kom egter meer onder jonger wit mense voor, met 51% van 15- tot 34-jariges wat so aandui en net 37% van die wit deelnemers ouer as 50.
Altesame 81% van bruin deelnemers het huisvriende uit ’n ander rasgroep. En 88% van hul kinders het speelmaats van ander rasse. Dit geld ook 79% van wit deelnemers se kinders.
Op die stelling “ek verwelkom en aanvaar gay mense in my gemeenskap en geloofsgemeenskap” stem 57% van die deelnemers volkome saam en 25% gedeeltelik. Daar is 12% wat daarmee verskil en 6% wat sterk verskil.
Oor saamblyverhoudings stem 32% van al die deelnemers volkome saam en 38% gedeeltelik saam. 21% verskil daarmee en 9% verskil sterk daarmee.
12% van die deelnemers het huishoudelike geweld aangedui as ’n misdaad waarvan hulle al ’n slagoffer was. Die misdade wat die meeste mense raak, is inbraak (54%), huisroof (29%), diefstal weens sakkerollers (27%), bedrog (21%) en motordiefstal (19%). Plaasaanvalle, verkragting en tref-en-trap-voorvalle is elk deur 3% van deelnemers as ’n ervaring gemeld. Motorkapings haal 6%.
- Beukman is redakteur van Beeld.