Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VERKIESING 2019: Mooi name lok my na stembus

Dis nogal moeilik om op stemdag tussen 48 politieke partye te kies. Daarom het MC Botha ’n ander manier gekies om te besluit waar hy sy kruisie gaan trek.

MC Botha

Teen dié tyd is ek so moeg vir beloftes van politici dat ek nie kan wag om te gaan stem nie.

Om ’n party te vind met kandidate wat vertroue inboesem en as waarlik patrioties beskou kan word, is egter makliker gesê as gedaan.

Al is daar 48 partye om uit te kies – amper te veel om op ’n enkele stembrief te pas. Dalk moet ons van ’n “stemboek” begin praat, of soos die Indiërs oor ’n tydperk van weke stem.

Sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 was ek ’n vurige ondersteuner van KISS. Benewens die aanloklike akroniem staan KISS vir Keep It Straight and Simple Party – dis dié eenvoud wat my kop laat swaai het.

Helaas het die party landwyd net oor die 5 000 stemme getrek, vergeleke met die ANC se meer as 12 miljoen en die NP se 4 miljoen. Maar KISS het nie moed opgegee nie en aan al die opvolgende verkiesings deelgeneem.

Totdat sy die kus van die dood gekry het en nie vanjaar onder die uitverkore 48 partye tel nie. In die huidige politieke klimaat is die blote naam Keep It Straight and Simple reeds ’n onmoontlikheid.

Watter party kan ’n waardige plaasvervanger wees?

Volgens ’n gelukstrekking gaan die African Security Congress reg boaan die stembrief wees. Dit klink klaar veiliger as die African National Congress, maar wie en wat is dié party?

In hierdie onsekere tye gee die name van ’n paar ander partye mens tog ’n vae hoop op ’n beter toekoms.

Vergeefs soek ek na ’n webblad, maar op Facebook sien ek die party se logo is ’n bloedrooi Afrika-vasteland met ’n reuse swart wawiel dwarsoor die kontinent geplak. Lyk nie te goed nie: ’n soort tweede Groot Trek, dié keer na China. Of is dit die verheerliking van die Chinese wat reeds hier is?

Dan eerder die Kapitalistiese Party van Suid-Afrika en sy akroniem ZACP wat ’n mens laat terugdink aan die ZAR van pres. Paul Kruger toe Pretoria nog Pretoria was. Die party se logo is ’n beeskop wat pers geverf is, ’n verdere aanduiding van Blou Bulle-land, indien dan nie Die Land van ’n afvallige Hofmeyr nie.

In hierdie onsekere tye gee die name van ’n paar ander partye mens tog ’n vae hoop op ’n beter toekoms: Better Residents Association, International Revelation Congress, South African Maintenance and Estate Beneficiaries, hoewel laasgenoemde meer trek na ’n eksklusiewe klub vir loodgieters.

Wat die provinsiale stembrief betref, is daar genadiglik vir ons in die Wes-Kaap net 34 partye om uit te kies.

Twee heeltemal verskillende partye klink gevaarlik na aan mekaar: African Transformation Movement en Alliance for Transformation for All. As jy jou kruisie tussen die twee per ongeluk op die verkeerde plek trek, sal jy hopelik nie terug by die huis jou fout agterkom nie en soos onlangs met ’n kieser in Indië gebeur het die gewraakte vinger wat met kiesersink gemerk is terstond afkap nie.

Wat die provinsiale stembrief betref, is daar genadiglik vir ons in die Wes-Kaap net 34 partye om uit te kies.

Net vir mossie het ek die ANC se kandidatelys vir die provinsie deurgegaan. Tot my stomme verbasing is die nr. 1-kandidaat Patronella Zingisa Lekker. Dis nou lekker – ek het nog nooit van haar gehoor nie.

Ander aanloklikes op die lys is me. Windvogel, me. Fortuin, me. Beerwinkel en, laaste maar nie die minste nie – letterlik laaste op nr. 41 – mnr. Bekeer. Met ’n bietjie geloof is hy volgende keer hoër op en staan sodoende ’n realistiese kans om tot die wetgewer verkies te word.

En moenie vergeet van die Khoisan Revolution nie. Hoe kan jy nié vir dié party stem nie as nr. 3 op die lys ’n bruin vrou genaamd Eldrina Lavinda Witbooi is?

Daarsy!

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. Dié rubriek het oorspronklik in die Hermanus Times verskyn. 

Meer oor:  Mc Botha  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.