Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VERKIESING 2019: So lyk beloftes deur godsdiensbril

Suid-Afrikaners moet nuwe inhoud gee aan politici se mooi woorde oor eenheid, hoop, vernuwing en die bestryding van korrupsie, skryf Nico Botha.

President Cyril Ramaphosa greets supporters after
President Cyril Ramaphosa groet sy ondersteuners nadat hy Woensdag by die Hitekani Primary School in Soweto, Johannesburg gestem het. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Wanneer dié rubriek verskyn, is die sesde algemene verkiesing in ’n demokratiese Suid-Afrika iets van die verlede.

Wat egter nie so gou agtergelaat sal kan word nie, is die wonderlike beloftes wat politici oor die hele spektrum van politieke partye gemaak het. Dis interessant om te kyk na sulke voornemens wat kort voor die verkiesing nog deur leiers van die drie grootste partye tydens hul laaste saamtrekke die afgelope naweek uitgespreek is.

Daarnaas sou dit dalk interessant wees om te bespiegel oor hoe godsdienstige mense daarna behoort te kyk. En die godsdiens word (hopelik) nie hierby betrek sodat daar oor elke liewe ding ’n godsdienstige souslagie gegooi kan word nie.

Nee, die Suid-Afrikaanse werklikheid is ten ene male so dat die groot Afrika-teoloog John S. Mbiti reg is wanneer hy sê dat Afrika-mense op ’n ongeneeslike manier godsdienstig is.

Maar allereers dan van die beloftes en voornemens wat deur leiers soos Cyril Ramaphosa (ANC), Mmusi Maimane (DA) en Julius Malema (EFF) uitgespreek is in hul pogings om kiesers aan hul kant te kry.

Ramaphosa wend ’n aantal sleutelwoorde aan wat nie aan geloofsmense vreemd is nie: eenheid, hoop en vernuwing. Die heilige boeke van godsdienstiges in Suid-Afrika lê klem op die eenheid van die mensheid en daarom is een van die moontlike vergestalting van die eenheid waarna Ramaphosa verwys, ’n benadering dat alle mense gelyk is.

Aan hul vrugte sal die ANC en ander partye herken word.

Nie bloot maar net in filosofiese terme nie, maar ook wat hul deelname aan die demokrasie en hul toegang tot materiële bronne betref.

As net iets hiervan deurskemer, sal die hoop waarna hy verwys herlewe en sal mense hier vreugdevol meewerk aan die vestiging van ’n samelewing waarin alle mense hul volle potensiaal verwesenlik kan sien.

Juis daarom is die keuse waarvoor Ramaphosa ons stel nie so eenvoudig nie. Dis nie bloot ’n keuse tussen die verlede en die toekoms nie.

Eerstens is die verlede soms in al sy felheid nog teenwoordig en die valse, leë en halfhartige beloftes van die politici kan nie op ’n magiese manier uit mense se geheue en gemoedere gewis word nie.

Aan hul vrugte sal die ANC en ander partye herken word. Dis nog steeds in godsdienstige en wetenskaplike terme waar dat jy nie onkruid kan saai en sappige geil vrugte kan verwag nie.

Bedelaars op soek na ’n stukkie brood

Kyk ’n mens na die laaste groot toespraak van Maimane merk jy ’n oorvereenvoudigde keuse op.

In sy beskouing oor Suid-Afrika dink hy nog steeds dat daar ’n simplistiese keuse bestaan tussen die korrupte en chaotiese ANC en EFF aan die een kant en ’n eerlike en bekwame DA aan die anderkant.

Hierdie gereduseerde konstruksies van “hulle korruptes” en “ons eerlikes”, “hulle onbekwames” en “ons talentvolles” het nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika gewerk nie.

Democratic Alliance leader Mmusi Maimane registers
DA-leier Mmusi Maimane meld aan by die stembusse tydens Woensdag se nasionale verkiesing. Foto: AP

As pastoor en kenner van die Bybel behoort Maimane te weet dat ons in die godsdiens en in die politiek almal maar bedelaars is wat mekaar moet help om ’n stukkie brood te vind.

Dit beteken natuurlik nie dat daar nie inderdaad op ’n gegewe oomblik mense na vore kan tree wat oor die bekwaamhede en vaardighede sowel as moraliteit beskik wat kan help om die chaos effentjies aan bande te lê nie.

In sy laaste toespraak voor die verkiesing probeer Malema om ’n regstelling te maak oor iets wat hy gesê het waarin hy dalk verkeerd verstaan kon word.

Die geveg van die EFF, sê hy, is nie teen wit mense nie, maar teen wit bevoorregting. Hoewel dit mooier begin klink as van sy uitlatings vroeër, konstitueer dit ook ’n oorvereenvoudiging wat nie die kompleksiteit van ons samelewing in ag neem nie.

Ons het gestem en daarmee ’n belangrike demokratiese reg uitgeoefen.

Sonder om allermins die werklikhede wat onder apartheid ontwikkel het te ontken, is dit in ’n eerlike ontleding van die samelewing eenvoudig nie meer waar dat ’n mens op ’n verskralende wyse net van wit bevoorregting kan praat nie.

Nico Botha

Daar het die afgelope 25 jaar ’n sterk en magtige elitistiese groep uit die swart bevolking – weliswaar kleinerig, maar ontsettend invloedryk – ontstaan.

Saam met ’n aantal wit korporatiewe magtiges doen hulle net wat hulle wil in hierdie land, terwyl die res van die bevolking magteloos toekyk.

Ons het gestem en daarmee ’n belangrike demokratiese reg uitgeoefen. Suid-Afrikaners moenie dink dat dit die enigste reg is nie.

Al is dit moeilik om politici aan hul beloftes te hou, moet ons in ons families, gemeenskappe, geloofsgemeenskappe en in ons organisasies daai selfde mooi woorde van politici oor eenheid, hoop, vernuwing en die bestryding van korrupsie neem en nuwe inhoud daaraan gee.

Dis amper al manier om die patologie van ’n getraumatiseerde samelewing teen te werk.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Nico Botha  |  Verkiesing  |  Geloof  |  Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.