Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VERKIESING 2019: Vrae wat 8 Mei-twyfelaars (dalk) kan help

In ’n neutedop klink dit asof verkiesingspraatjies onder Beeld-lesers grootliks om vier kwessies draai: 

Barnard Beukman

* Moet ek vir Cyril Ramaphosa stem om hom te versterk (let wel vir Cyril, nie vir die ANC nie)?

* Is daar nog enige rede om weer DA te stem?

* Wat van ’n kleiner party of is dit ’n mors van my stem?

* Wat daarvan om verskillend te stem op nasionale en provinsiale vlak?

Uit die uiteenlopende syfers van verskillende meningspeilings blyk twee gemeenskaplike waarhede wel: Vanjaar is daar so kort voor stemdag ongekende onsekerheidsvlakke onder kiesers. En hoeveel uiteindelik gaan uitkom om te stem, kan veral die groter partye heelwat raak.

Oor die impak wat selfs minderheidsgroepe, soos Afrikaanssprekendes, op die verkiesing kan hê, kan daar ná die vorige munisipale verkiesing geen twyfel meer wees nie. Met ’n relatief lae opkoms uit ANC-geledere en ’n ongekende hoë stempersentasie deur die voorstedelike middelklas, het die DA en ander partye in Tshwane, Johannesburg en Port Elizabeth baat gevind en die ANC uiteindelik uit die kussings gelig. Tans lyk dit of die EFF nie sukkel om geesdrif onder sy ondersteuners op te wek nie, hoewel die meeste van hulle nie geregistreer is nie. Vir die ANC en die DA blyk daar nog ’n paar nagte van rondrol tot 8 Mei te wag om te sien in watter getalle hul tradisionele ondersteuners gaan opdaag.Droom en nagmerrieRamaphosa “verteenwoordig Suid-Afrika se droom, maar die ANC die land se nagmerrie”, het een van die gehoorlede op sy onlangse vergadering met grootliks “Afrikaanse meningsvormers” in Pretoria aan hom gesê.

Die romantisering om vir hom te stem, het ’n terugslag beleef by die bekendmaking van sy party se kandidatelyste gelaai met staatskapers en ander ongure karakters. Sommige ontleders meen hy gaan die ANC-etiekkomitee se raad volg en sowat 20 van diesulkes uitlaat wanneer hulle die finale lys ná die verkiesing by die speaker indien – al sluit dit adj.pres. David Mabuza en Gwede Mantashe, partyvoorsitter, in. Dan is hy van die hele spul ontslae en kan hy groter interne stabiliteit bring, met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as tweede in bevel van die land.

Maar dit is gissings. Die werklikheid is hy is skynbaar die eerste ANC-president wat nie ’n vinger kon of probeer verroer het om in te gryp by die kandidatelyste nie. En van sy grootste gewonde teenstanders is nou talle LP’s wat sy leierskapsveldtog gesteun het en staatskaping in parlementêre portefeuljekomitees, soos openbare ondernemings, binnelandse sake, finansies en openbare werke, beveg het. Hulle is sonder seremonie af- of uitgeskuif.

Diegene wat vir hom wil of gaan stem, sal moet verreken dat hulle in werklikheid vir die ANC met Ace Magashule as sekretaris-generaal stem. Oorweeg ook dat ’n 60%-plus-ANC arrogant gaan wees en gaan voel hy hoef nie oor sy skouer te loer nie. En juis die Cyril-ondermyners kan aanvoor dat dit tog die moeite werd is om ’n magsoorname te probeer. Die ANC is ironies die organisasie waarin sy grootste teenstanders is.

Sal ’n 55%-ANC nie dalk beter vir ons demokrasie en juis Cyril wees nie? Hy kry in elk geval sy sterkste steun vir sy plan vir ekonomiese groei, kleiner en beter regering, buitelandse beleggings, uitroei van korrupsie en ingryping by staatsondernemings van sektore buite die ANC.

En dit is veral in Gauteng waar die Cyril-stemmers heelwat behoort te wroeg voordat hulle ’n ANC-kruisie trek. Hulle sal moet dink oor die weerlose psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni – waarvan sommige agterop oop bakkies weggery is na ’n wrede dood. Dit weens gierigheid. ’n Beter lewe vir almal? Dis niks anders as ANC-mitologie nie.

Panyaza Lesufi se kruisvaart teen Afrikaanse skole omdat in gebreke gebly is om genoeg skole te bou volgens die regering se eie doelwitte, is ’n ander faktor.

En is ’n ANC-stem ’n uitnodiging aan die EFF à la Ace om “terug te keer huis toe?”

Dit is van die vrae wat oor die ANC-opsie hang.Waarheen is die DA op pad?Dit blyk ’n algemene vraag onder kiesers en ontleders te wees.

Word Mmusi Maimane nou gestraf omdat hy juis die grootste party tot op hede gebou het waarin verskillende Suid-Afrikaners – wit, bruin en swart – om sekere basiese oortuigings probeer saamtrek? En word egosentriese Wes-Kaapse persoonlikhede wat grootliks ’n beroepspolitieke agenda dryf se dramas korrek voorge-hou as grootskaalse interne opstande?

Veral die VF Plus, die ACDP en Cope word deur van ons lesers beskou as ’n plek om hul stem te parkeer uit radeloosheid met die groot drie.

Een van die indringendste oorwegings vir diegene wat hul stem van die DA wil wegskuif, is die gevolge van ’n verswakte DA in die Suid-Afrikaanse magspolitiek. Saam het die ANC, die DA en die EFF meer as 90% van die steun in die vorige nasionale verkiesing gehad.

Dit gaan min verander en is die kring waarbinne werklike koalisiegesprekke en die eerste politieke herskikkings gebore sal moet word.

Is dit ’n arena waarheen ’n mens ’n verswakte DA wil stuur – die enigste van die drie wat teen die verandering van die Grondwet vir onteiening van grond sonder vergoeding is? Oorweeg of ’n stem weg van die DA ’n teerpad vir ’n ANC-EFF-koalisie is indien volstrekte meerderhede nie behaal word nie.

Die kleiner partye Vir die “groter kleiner partye” wat reeds in die parlement verteenwoordig is, is geen stem in ons stelsel ’n vermorste stem nie. En kan meehelp dat hulle meer LP’s bykry.

Veral die VF Plus, die ACDP en Cope word deur van ons lesers beskou as ’n plek om hul stem te parkeer uit radeloosheid met die groot drie.

Dit lyk of dr. Pieter Groenewald ’n suksesvolle fokus om die VF Plus gevestig het. Hul plakkate verkondig “Slaan terug”. Tog was daar die openbare relletjie tussen Corné Mulder en Ernst Roets van AfriForum omdat Mulder meen Roets se aanvallende styl het Afrikaanse grondbesitters se saak geskaad. Hy bepleit slimmer pragmatisme.

Ander wil weer Mosiuoa Leko-ta beloon vir sy uitreiking na Afrikaanssprekendes en standpunt oor grond. En die ACDP se openlik Christelike karakter maak hom vir sommige ’n veilige hawe.

KwaZulu-Natallers, wat die IVP beter ken, kan dalk na dié party kyk wat volgens aanduidings weer groei ten koste van die wegbreek-National Freedom Party (NFP).

Waaroor die kleinpartykiesers deeglik sal moet besin, is of een, twee, drie of selfs vier LP’s bykomend tot enige van die partye of as ’n groep, enige invloed gaan hê op die magspolitiek van die land. Is daar werklik ruimte vir “hartsbesluite” – soos van die kleintjies vra – eerder as taktiese en rasionele kopbesluite in ons politiek?

Uiteindelik het elkeen ’n afspraak met hom- of haarself in die stemhokkie. Sterkte.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Verkiesing 2019  |  Stem  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.