Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verkiesing in Griekeland ’n les in politiek

Die uitslag van laas naweek se verkiesing in Griekeland het interessante implikasies. In die verkiesing is die linkse re­gering van Alexis Tsipras oortuigend deur die konserwatiewe Kyriakos Mitsotakis verslaan.

Om die politieke les behoorlik te begryp, moet ’n mens begin by die gevleuelde uitspraak van die Duitse staatsman Otto von Bismarck: “Politiek is die kuns van die moont­like.” Anders gestel, die harde praktyk stel grense aan politici se ideologiese vergesigte.

Wanneer dié grense oorskry word, betaal die betrokke lande meestal ’n prys. Adolf Hitler het dit in 1933-’45 op ’n verwoestende skaal agtergekom, maar dié waarheid geld eintlik oral en altyd.

Tsipras het in 2015 in Griekeland as linkse populis aan die bewind gekom. Die Griekse ekonomie was destyds deur die korrupsie en wan­bestuur van die konserwatiewe regering in vrye val, en Tsipras het links en regs wilde beloftes gemaak dat hy, deur geld rond te strooi, ’n einde aan die ellende sou maak.

Hy het inderdaad die eerste maande van sy regering op allerlei linkse stokperdjies gekonsentreer.

Dit het die land, toe al diep in die skuld, net dieper in die ellende laat wegsink. En geen enkele maatskaplike probleem is daardeur opgelos nie.

Die deurslag is egter gegee deurdat die Europese Unie (EU), met bondskanselier Angela Merkel van Duitsland aan die voorpunt, Tsipras soos ’n stoomroller platgestoot het.

Die EU het yslike lenings aan Griekeland gereël, maar streng voorwaardes van finansiële dissipline gestel. Merkel het Tsipras by wyse van spreke aan sy hand gevat en aan hom die eerste en belangrikste reël van enige huisvrou verduidelik: Moenie aanhou om meer geld uit te gee as wat jy verdien nie.

Of jy nou links of regs is, jy moet weet waar die grense van die moontlike is –en dit nie oorskry nie.

Tsipras had geen keuse nie – hy móés luister. En uiteindelik het dit gewerk. Die Griekse ekonomie is deesdae ’n kwart kleiner as in 2007, toe die ekonomiese krisis begin het, en die werkloosheidsyfer is 18,1%.

Maar, mede deur die verstandigheid wat Merkel aan Tsipras opgedwing het, groei die ekonomie weer – verlede jaar met 1,9%, wat maar effens is, maar darem.

Populisme is ’n interessante verskynsel wat baie aandag trek. Baie kortpad gevat, beteken populisme eenvoudig dat politici die wêreld aan hul kiesers beloof en hul opponente in die proses as vyande van die volk, verraaiers, korrup, sleg, ensovoorts voorstel.

Populiste kan sowel links as regs wees. Tsipras – soos Julius Malema in Suid-Afrika – was ’n goeie voorbeeld van ’n linkse populis; pres. Donald Trump is ’n regse een.

Tsipras se val bewys die waarheid van Bismarck se uitspraak: Of jy nou links of regs is, jy moet weet waar die grense van die moont­like is en dit nie oorskry nie.

Meer oor:  Alexis Tsipras  |  Griekeland  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.