Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verkiesingsplan verbaas glad nie
Alida Kok
Alida Kok

Nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en die EFF in Junie ooreengekom het dat algemene en munisipale verkiesings tegelyk moet plaasvind en eenstemmigheid bereik is dat 2021 se munisipale verkiesing uitgestel moet word, bestaan ’n sterk moontlikheid dat die regerende party en die EFF in die wetgewer gaan saamspan om veranderinge daarvoor in die Grondwet te probeer deurvoer.

’n Mens kan net hoop dat die beskikbare tyd om 2021 se munisipale verkiesing uit te stel, die ANC en die EFF se planne in die wiele sal ry sodat dít wat die twee partye vrees – ’n slegter vertoning by munisipale stembusse en dus ’n aanduiding van wat in 2024 op pad is – nie gekeer kan word nie.

Die munisipale verkiesing dien as ’n soort middeltermynverkiesing, waar kiesers met hul munisipale stem aan politieke partye ’n boodskap van volgehoue steun of diep ontevredenheid oordra. Al kan ons aanvaar dat die groot deel van die bevolking wat staatmaak op welsyntoelae om te oorleef, vir die ANC sal aanhou stem, hou die munisipale verkiesing vir die ANC én die EFF geen goeie vooruitsigte in nie.

Benewens die EFF se beweerde betrokkenheid by die plundering van VBS Mutual Bank (wat veral ’n gemeenskap in Limpopo raak – saam met Noordwes, die provinsies met die meeste EFF-steun), het omstandighede van die staat van inperking en Covid-19 dalk genoeg gedoen sodat dié party bekommerd is dat sy steun in die verkiesing in 2016 en 2019 moontlik ’n plafon bereik het.

As verkiesings op die drie vlakke van regering op een dag plaasvind, sal na­sionale politiek ’n nog groter oorhand oor plaaslike regering kry.

Die afgryslike plundering van Covid-19-hulpbronne deur ANC-leiers en hul familielede, die party se onvermoë om oortreders verantwoordelik te hou en die publiek se reaksie daarop – wat vorm kry in veldtogte soos #Voetsek-ANC – voorspel ook dat dié party se steun kan afneem.

Die ANC het munisipaliteite oor die land heen tot in die grond gedryf. Net 20 uit 278 munisipaliteite het in die afgelope boekjaar skoon oudits ontvang.

Terwyl munisipale verval daadwerklik aangepak moet word, kies die ANC as regerende party om met die sinchronisering van verkiesings selfs nóg minder aandag aan munisipaliteite te gee.

As verkiesings op die drie vlakke van regering op een dag plaasvind, sal na­sionale politiek ’n nog groter oorhand oor plaaslike regering kry. Dit sal die wanfunksionele en oorgesentraliseerde ANC-staat selfs verder vaslê. Die poging van die ANC om plaaslike regerings selfs verder te vernietig, moenie tot verbasing lei nie.

Die party het sedert die onderhandelinge vir ’n nuwe Grondwet in die 1990’s dit duidelik gestel dat klem gelê word op nasionale regering en dat gedesentraliseerde vlakke van regering, soos provinsies, moet wegval.

Intussen is daar toenemende aanduidings dat ’n ouer garde in die swartbewussynsbeweging en in sekere kringe van ’n swart politieke elite wat met ANC-faksies oorvleuel, daarvan oortuig is dat die ANC nie meer gered kan word nie. Sommige in dié kringe meen daar moet reeds beplan word vir ’n post-ANC-Suid-Afrika.

Dié rolspelers gaan probeer om met politieke bewegings – en nie noodwendig (net) met politieke partye nie – die mag van die vrot party aan die kop van die staat stelselmatig weg te kalwe.

Die konstitusionele hof se opdrag aan die wetgewer om binne twee jaar die Kieswet aan te pas om onafhanklike kandidate toe te laat om in nasionale en provinsiale verkiesings te staan, bied ’n pad vorentoe vir dié strategie. Dit kan dalk net ’n manier wees om die ANC se meerderheidsgreep ter elfder uur in die parlement te beëindig.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Verkiesing  |  Munisipaliteite  |  Provinsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.