Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verkragters kan nie verlede as verskoning gebruik

Mans wat kinders en vroue verkrag en vermoor se grootwordjare mag nooit as regverdiging vir hul afskuwelike dade gebruik word nie, skryf Louise Karsten.

Sy hoor net haar eie hartklop, hárd, in haar ore. Haar een wang skuur teen die growwe mat. Sy mond beweeg. Spoeg spat terwyl hy skree, maar al wat sy hoor is ’n gesuis in haar ore.

Sy sien die sool van sy skoen wat weer nader kom. Haar ooglede sak en bloed drup op die mat . . .

Oor twee weke sou sy sewe jaar oud word. Sesjariges glo nog in die tandemuis. Hulle glo in Kersvader en hulle weet nie altyd watter dag van die week dit is nie. Vir sesjariges maak die dae van die week nog nie saak nie.

Louise Karsten

Boitumelo Matsekoleng (6) was nie anders as ander sesjariges nie. Hoekom word ’n sesjarige brutaal verkrag? Wég is die tandemuis en Kersvader. Wég is die klein plesiertjies soos lekkergoed en speelgoed wat die lewe vir klein meisies soos Boitumelo moes bied.

Joernaliste gebruik die woord “verkrag”, maar dit kan nie die wreedheid van die daad weerspieël nie. Toe ek vir die eerste keer saam met ondersoekbeamptes van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe begin werk, het ek eers besef hóé vaag die woord “verkrag” presies is.

Dié woord is eufemisties. Die nadoodse verslag van ’n forensiese patoloog oor Boitumelo se beserings is erger as die wreedste gruwelfliek.

Haar sesjarige lyfie is só deur ’n 35-jarige man verniel dat sy in ’n hospitaal in Limpopo dood is nadat sy vir twee weke nog aan die lewe kon klou.

Die veroordeelde kinderverkragter Nicholas Ninow (21) is in dieselfde week van Boitumelo se dood tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis omdat hy ’n sewejarige meisie in ’n toilet in ’n restaurant verkrag het.

Ons samelewing behoort nooit empatie te hê met mans wat kinders verkrag en vroue doodskop nie.

’n Sielkundige verslag van Ninow se moeilike grootwordjare het my by tye aan die hart gegryp. Hy is inderdaad ’n gebroke mens. ’n Verslag wat daarna aan die hof voorgelees is, vertel dat Ninow se slagoffer nie bang is vir krokodille of slange nie, maar vir mans.

Nes die hof nie empatie met Ninow se krokodiltrane gehad het nie, behoort ons as ’n samelewing nooit empatie te hê met mans wat kinders verkrag en vroue doodskop nie.

Nie almal wat in moeilike omstandighede grootgeword het verander in grootmensmonsters soos Ninow en Boitumelo se moordenaar nie. Dít moet nooit ’n verskoning wees vir die hel wat hulle hier op aarde veroorsaak nie.

* Karsten is ’n joernalis en skrywer wat saam met haar twee dogters in die Tuinroete-gebied woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.