Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verlange alleen na menslikheid is nie genoeg
Donald Katts

Die herdenking van Menseregtedag die afgelope naweek het herinneringe aan die opgewondenheid en verlange na ’n menswaardiger Suid-Afrika, toe die Handves van Menseregte omtrent 25 jaar gelede onderteken is, opnuut laat opvlam. Ons het toe gevisualiseer hoe ons menseverhoudinge gaan verbeter en ons samelewing mensliker daar gaan uitsien.

Sedertdien het ons as Suid-Afrikaanse gemeenskap ver gevorder. Dit bly egter nog waar dat baie meer nodig is en meer nog gedoen kan word sodat gewone mense die uitwerking van die handves kan ervaar.

Dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder, meen in ’n onderhoud dat menseregte nie wette beskerm of mense se kultuurgroep beskerm nie. Hy sê dat menseregte eenvoudig mensheid beskerm. Die Handves van Menseregte help ons inderdaad om meer menslik te wees.

In ons land beteken dit om mekaar te respekteer, nie teen mense te diskrimineer nie, mekaar menswaardig te behandel deur ook aan die ander te gun wat jy vir jouself wil hê, en om niemand aan enige vorm van slawerny, onderdrukking en onregverdigheid te onderwerp nie.

Die grootste nut en vrug wat die handves ooit kan bewerk, is om ons meer menslik te maak en spesifiek mensheid te laat herleef.

Herinnering aan die opgewondenheid en verlange na ’n meer menswaardige samelewing wat die ondertekening van die handves gebring het, laat my besef dat verlange na wat kan wees, goed is. Dié verlange vertel ’n storie oor wat ons juis nie weer wil beleef nie en waarop ons wil verbeter. Die verlange bring ’n hernude waardering vir wat ons nou het en die wete dat die handves vir ons almal kan werk.

Die verlange is egter nie genoeg nie. Dit is daarom van belang dat ons iets daadwerkliks moet doen sodat die verlange gestalte kan kry in die verwesenliking van die Handves van Menseregte, maar veral ook in die lewe van alle Suid-Afrikaners – veral die burgers wat aan die onderste trappie van die lewenservaring staan.

Die grootste nut en vrug wat die handves ooit kan bewerk, is om ons meer menslik te maak en spesifiek mensheid te laat herleef. Om dit te soek en ons vir die realisering daarvan te beywer, begin by ons verlange. Die kerkvader Augustinus het gesê: “Die hele lewe van ’n gelowige is ’n heilige verlange’’.

Sekerlik is ons lewe ’n heilige verlange, na God, maar seer sekerlik ook na reg en geregtigheid en meer – ook na die vervulling van menseregte en na ’n menswaardige samelewing. Toe Jesus die skare in Matteus 6:33 maan om hulle te beywer vir die Koninkryk van God en Sy wil, kon hy net sowel gesê het hulle moet ’n verlange na God en Sy wil ontwikkel.

Vele in ons land het dié verlange gehad en met hul lewe daarvoor betaal. Ons smaak die vrug van hul verlange na ’n Handves van Menseregte. Dalk moet ons weer verlang na die goeie en mooi, regverdigheid en geregtigheid, ja die menslikheid en meer, om net weer mensheid te ervaar. Dalk kan ons meer doen as net verlang.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Menslikheid  |  Menswees  |  Menseregte  |  Beskerming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.