Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verlange reis saam in die jeug se rugsak
Annemarie van der Walt

Daar is meer as 65 bladsye aanhalings oor jeug op die webwerf GoodReads en onder die boonstes is een van my gunstelinge deur die dramaturg George Bernard Shaw: “Youth is wasted on the young.”

’n Bietjie sinies en miskien moet ’n mens dit eerder saamlees met dié een van Pablo Picasso: “It takes a very long time to become young.” Want op ’n eienaardige manier is dit of ’n mens as’t ware ligter word soos jy ouer word – meer gestroop van selfwaan, minder gebôdder met ander mense se menings oor jou doen en late, met meer tyd en lus om in verwondering te wees oor van ’n klein kind se vingers tot die sien van ’n skaars rooiborssuikervoël.

Soms speel die herinneringe effens parte met my en is dit makliker om die droewe wroeginge van my jonger self te onthou; al die onsekerhede en die ruwe afdraaipaaie. Ek hét al die moed bymekaargeskraap om ’n keer of wat deur my notaboeke van daardie tye te blaai, maar dis nie juis aan te beveel nie.

Dan eerder maak soos ’n vriendin eendag vertel het toe sy haar nr. 8-denim op die uitsmythopie gooi: “So ongelukkig gaan ek nooit weer wees nie!”

Waarna wel soms met ’n stewige nostalgie verlang word, is daardie byna roekelose impulsiwiteit, die voortvarendheid van die jeug, wat meermale tot onverwagse avonture gelei het.

Waarna wel soms met ’n stewige nostalgie verlang word, is daardie byna roekelose impulsiwiteit, die voortvarendheid van die jeug, wat meermale tot onverwagse avonture gelei het.

Daar was ’n onbeplande Weskus-toer, vier van ons in ’n vriend se stokou Mercedes-Benz, twee tente teen die Julie-koue en R150-brandstofgeld. Ons was skatryk.

En die keer toe ek en ’n vriendin hande opsteek om ’n ou blaasbalk vir prof. Erik Holm te gaan haal in Kleinmond. Dié wou hy gebruik by sy ossewa-plek by Saartjiesnek en ons kon met sy ou double cab- Kombi ry. Vat ons toe 36 uur om in die Kaap uit te kom, want vinniger as 80 km/h wou die Kombi nie. Tyd is die jeug beskore.

Jare later kamp ek en dieselfde vriendin iewers in Nederland. Dis donker toe ons daar aankom. Die volgende oggend word ons wakker met die geblaf en boggom van bobbejane. Dit blyk ons het tent opgeslaan in ’n dieretuin. En ons gee mekaar een kyk en sê: “Ek mis Afrika.”

Verlange reis meermale saam in die jeug se rugsak. Op ’n reëndag in Pretoria besluit ons drie kommunemaats klasdraf is vir die voëls en sit die ganse dag vir mekaar en voorlees uit Roald­ Dahl se Revolting Rhymes. Dis nou nog een van my gunstelingboeke. En ’n soort dag wat mooi beskryf word deur een van my ander gunstelingskrywers, Anita Brookner: “Time misspent in youth is sometimes all the freedom one ever has.” Nou is ’n mens hopelik meer bedag op hoe jy die ure bestee. En waar en met wie.

William Wordsworth het immers geskryf: “I have learned to look on nature, not as in the hour of thoughtless youth, but hearing often­times the still, sad music of humanity.” .

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Jeug  |  Herinneringe  |  Verlange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.