Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verlede kan só dalk insigte bied

In die hart van die Karoo is ’n sonderlinge gehuggie. Asof in Victoriaanse amber gestol, was Nieu-Bethesda vir lank deur ’n haas onbegaanbare bergpas van die buitewêreld afgesluit. Alleen aan ’n ingeswore groepie bekend.

Met Athol Fugard se verhoogstuk The Road to Mecca in 1984, wat later ook verfilm is, is ’n priemende lig vir die eerste keer op die Uilvrou, Helen Martins, gewerp en deur haar, op die vreemde wêreld wat sy bewoon het.

Sy is dáár gebore. Nadat sy haar as onderwyser bekwaam en ’n ruk in die toentertydse Transvaal gebly het, het sy – ’n egskeiding ryker – na haar geboortedorp teruggekeer. Ná haar ouers se afsterwe het sy gaandeweg toegekluister geraak – ’n voëltjie in ’n kou. Soos Fugard dit in sy verhoogstuk teken, het sy haar van ’n goedbedoelende maar begriplose dorp en kerk vervreem.

Dít was immers ’n tydvak toe daar van ouerwordende plattelandse tannies verwag is om melktert en beskuit te bak, nie om eksotiese sementbeelde van kameelperde en wysgere met verpoeierde glas te bedek en Mekkawaarts gerig in ’n tuin staan te maak nie.

Die Martins-huis en die naasliggende Kameeljaart is, sedert Fugard se ink eers daaroor geloop het, een van die Karoo se bekoorlikste bestemmings.

Nes Miss Helen in The Road to Mecca kers op kers aansteek om die naderkomende duister te verdryf, werp ’n aandagtige besoek aan die Uilhuis lig op ’n stuk geskiedenis wat al hoe verder weg en moeiliker begrypbaar raak.

Al had die Uilhuis vir lank reeds ’n sorgsame span bewakers, het die gevoel my by elke besoek getref dat daar min tussen dié suiwer kolletjie en die afgrond staan.

Al had die Uilhuis vir lank reeds ’n sorgsame span bewakers, het die gevoel my by elke besoek getref dat daar min tussen dié suiwer kolletjie en die afgrond staan. Watter stewige riem was dit onlangs dus om te sien hoe die ganse Martins-skat sedert my vorige besoek met groot sorg herorden is.

Van die plaaslike siele noem die toevoeg van ’n blink winkeltjie, die toemaak van die ou ingang deur Helen se pa se leeukuil-kamer, en die inrig van ’n nuwe ingang blykbaar ’n Johannesburgifisering van die dorp se pêrel.

Maar diegene wat só sê, fouteer. Die “nuwe” Uilhuis is verfrissend en prikkelend. Dit weerspieël insig en nadenke. Om werklik tot besoekers te spreek, word van museums en ander voorstellings van die geskiedenis intelligensie en oordeel geverg. Die geykte mantra van “so gemaak en so laat staan” is gewoon nie goed genoeg nie.

’n Mens koester derhalwe die hoop dat die kuratore van die Brandfortse tronkhuis van Winnie Madikizela-Mandela, wat tans tragerig in ’n museum omskep word, by Nieu-Bethesda se nuwe bewaarliede die kers sal opsteek.

Tans staan die piepklein drievertrekhuisie betreklik onaangedui in die Majemasweu-township net langs die dorp. ’n Uitstalgeboutjie is daarneffens opgerig, en die skelet van wat glo die verpleegster Madikizela-Mandela se eertydse kliniek was, staan daarlangs.

Presies wat daarvan gaan word, en wanneer, is onduidelik. ’n Blik op hierdie geboutjie bied, selfs én dalk veral vir haar kritici, die moontlikheid op insig. In dié skeletale klein onderdak het Madikizela-Mandela en haar dogter Zinzi etlike jare geslyt. Hul knaendste besoekers was die plaaslike polisie.

In die groeiende beweging na die moeilike ideaal van dekolonisering, behoort museums ’n sentrale rol te speel om die verlede se storie, ryk en kompleks soos dit is, so volledig en boeiend as moontlik te vertel.

Derhalwe verbaas dit my telkens dat Stellenbosch se pragtige dorpsmuseum, en ander soortgelyke museums, nog nie die borstrok van hul eie verlede ontkom het nie. Daar waar daar soveel middele is – geld én kundigheid – sou ’n mens wou hê dat ’n lig gewerp moet word op die ryk geskiedenis in die jaart buite die bevoorregte kern.

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Bewaring  |  Verlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.