Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verlore vertroue moeilik herstel
Jan-Jan Joubert

Tydens die ampstermyn van pres. Richard Nixon het wantroue tussen die Withuis en die perskorps so ’n laagtepunt bereik dat die term “geloofwaardigheidsgaping” ontstaan het. Die media het opgehou om dit wat die Withuis as feite uitgestuur het as korrek te aanvaar, want weens voortgesette wanvoorstelling en leuens is die Withuis en sy inwoner nie meer as eerbaar beskou nie.

Een van die nalatenskappe van die pas afgelope Amerikaanse presidents­termyn is dat onverantwoordelike, onboetvaardige en soms oningeligte mense alle feite waarmee hulle nie saamstem nie as fopnuus afmaak en in ’n taamlik algemene staat van geloofwaardigheidsgaping met die wêreld en die werklikheid verkeer.

Kyk maar na sosiale media – die term “hoofstroommedia” gevolg deur ’n afwysende persoonlike verwysing of belediging is dikwels ’n vroeë simptoom van sulke werklikheidsontkenning.

As ’n geloofwaardigheidsgaping tussen die presidensie en die tesourie van ’n land aan die een kant en die media aan die ander kant ontstaan – waar die media en die presidensie/tesourie mekaar se integriteit en eerbaarheid wantrou – is daar wedersyds moeilikheid.

In Suid-Afrika is ons na aan hierdie punt, met ’n aanloop wat kom uit die bewind van oudpres. Jacob Zuma en vererger het onder die bewind van pres. Cyril Ramaphosa. Die staatsrede en begroting is voorbeelde hiervan.

Sedert omtrent 2013 het die staatsrede ontaard in ’n toiingrige spektakel van bedenklike morele peil; ’n geldmorserige vertoon van eersug en paranoia.

Die doel van die staatsrede is primêr dat die staatshoof die wetgewende doelstellings van sy regering vir die jaar uitstippel. Sekondêr kan gefokus word op die aktuele politieke klimaat en enkele doelwitte vir die staatsdiens.

Sedert omtrent 2013 het die staatsrede ontaard in ’n toiingrige spektakel van bedenklike morele peil; ’n geldmorserige vertoon van eersug en paranoia.

Voor omtrent 2010 is die staatsrede in die oggend gelewer, met minimum ontwrigting vir die publiek. Dit was ’n vrolike affêre met die mans wat formeel en die vroue wat swierig aangetrek het. Teen twaalfuur was dit afgeloop.

Deesdae vind dit in die aand plaas. Maar die hele sentrale sakekern van Kaapstad, en die duisende wat hier ’n bestaan probeer maak te midde van die regering se aanslag op die ekonomie, word van vroegoggend af verlam met polisiepersoneel wat in dolleë, afgesperde strate ronddool en hulle aggressief teenoor die publiek gedra. Dit is ’n vreugdelose, peperduur, sinlose sekurokratiese nagmerrie in die styl van derderangse apokaliptiese rolprentprul uit Hollywood.

Vanjaar was al die afgryslike vermorsing van geld vir ’n geleentheid (verleentheid?) wat deur presies 50 mense bygewoon is.

Die presidensie het hulself geen gunste betoon nie deur op kort kennisgewing af te wyk van die jare lange gebruik om die toespraak intyds aan die parlementêre persgalery beskikbaar te stel.

Die doel is eenvoudig – soms wyk die president af van die teks, of hy kry ’n syfer of ’n naam verkeerd. Dan bly akkurate verslaggewing moontlik.

Maar soos met die begroting, toe op groot skaal afgewyk is van ’n stelsel wat dekades lank al korrekte verslaggewing verseker – omdat ’n grootdoenerige tesourie-amptenary hulself al skouerkloppend eensydig wil laat geld – was daar geen raadpleging nie. En nog ’n instelling torring uit.

Môre vind ’n vergadering oor ’n wordende geloofwaardigheidsgaping plaas tussen die media en die magshebbers. Die president, sy presidensie en sy tesourie moet dit nie vlak kyk nie. Hulle moet weet: Enige geloofwaardigheidsgaping wat hulle goedsmoeds skep, gaan moeilik herstel word.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Richard Nixon  |  Jan-Jan Joubert  |  Staatsrede  |  Vertroue  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.