Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vermy liefs nog olie op dié vuur
Heindrich Wyngaard

Dit is seker maklik(er) om aanvegbare stellings in veronderstelde veilige ruimtes te maak.

Soos toe die politieke kommentator Theo Venter in Junie 2018 in ’n gesprek op RSG gesê het die Zuma-presidents- jare was die slegste in die land se ganse geskiedenis – “en dit sluit al die apartheidsleiers in”.

Wat hierna gebeur het, eerder as om aan te dring op ’n dieper gesprek oor die konteks van sy stelling sodat almal dit beter kon verstaan, is dat die fokus na die reg op vryheid van spraak verplaas is.

Die afgelope Woensdagaand het ’n soortgelyke situasie op die program KN Verslag in Gesprek op kykNET afgespeel toe die gesprek by omstrede verkiesingsplakkate of -advertensieborde gaan draai het.

Die vertrekpunt was die DA se “The ANC is killing us”-veldtog, gekoppel aan die name van slagoffers van die Marikana-slagting, die Life Esidimeni-tragedie en kinders wat hul jong lewens in puttoilette by skole verloor.

’n Mens hoef eintlik niks meer oor die DA se veldtog te sê as om volmondig saam te stem met die mening van Melanie Verwoerd op News24 nie: “It was a shameful, insensitive act of political opportunism, made worse by the total inability to admit to the hurt and offence caused.”

Om die waarheid te sê, die ANC slaag nou daarin om meer mense te vermoor as wat die apartheidstaat gedoen het.
Piet Croucamp

Terwyl dr. Piet Croucamp in die KN Verslag in Gesprek-uitsending saamgestem het dat slagoffers nie vir politieke redes misbruik moet word nie, het hy toe bygevoeg “die punt dat die ANC verantwoordelik is vir derduisende mense se dood in Suid-Afrika, moet baie pertinent gestel word”.

En hy het beklemtoon: “Om die waarheid te sê, die ANC slaag nou daarin om meer mense te vermoor as wat die apartheidstaat gedoen het. If you count the heads ( . . .) as ons praat van koppe tel, van mense wat direk vermoor is deur die staat, beat die ANC die Nasionale Party by verre.”

Dit het ’n mens opsluit laat terugdink aan die Venter-geval, maar soos ook tóé het jy in die eerste instansie jouself afgevra: Het ek reg gehoor? Inderdaad was daar met jou gehoor niks fout nie.

Croucamp het hom al dikwels as ’n Afrikaanse kommentator ongewild gemaak deur die nuanse en konteks wat hy tot gesprekke bydra oor, sê nou maar, die binnewerkinge van die ANC of die land se geskiedenis.

Omdat hy dit egter nie in hierdie geval gedoen het nie, laat hy die kyker wonder presies hóé hy sy vergelyking tussen vandag se sogenaamde “ANC-moorde” en dié van die “apartheidstaat” bereken – of regverdig.

Die getalle waarna Croucamp verwys, mag dalk “by verre” verskil, maar so is daar tog ook ’n onderskeid te tref tussen sterftes van landsburgers wat deesdae meegebring word deur ’n regering se onbeholpenheid of traagheid om die regte stappe te doen, en die doelbewuste, koelbloedige moorde op burgers voor 1994.

Jy sou dit net nie in die verlede so blatant in die openbaar kon uitspel soos wat ons grondwetlik-verskanste vryheid van spraak ons vandag toelaat nie. Uitpraat kon jou tóé in die tronk laat beland, ’n slagoffer van ’n motorbom maak en selfs noodlottig op ’n koekie seep tot binne-in jou graf laat gly.

Om hierdie historiese realiteite by te haal is geen goedpraat van die dood van landsburgers aan die hand van die ANC se gewapende stryd of goedkeuring vir die drogredenasie dat dié lewensverlies geregverdig (“a just war”) was nie. Ons moet egter versigtig trap met uitsprake wat olie op die verterende vlamme van verdeeldheid gooi. Of bedoel Croucamp (en die DA) werklik dat die ANC ’n strategie het om burgers te vermoor?

  • Wyngaard is ’n kommentator oor ak­tuele sake en ’n TV-aanbieder.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.