Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verniste voete en ander skade

Hoe kry jy dit reg om jou voetsole in die vroeë oggendure te vernis? Moet liewer nie vra nie, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Dit is nooit goeie nuus as ’n mens in die vroeë oggendure wakker gemaak word nie.

Dit is twee-uur in die oggend. Die helder lig van my slaapkamer skyn meteens in my oë. Voor my staan my seun, halfnat, halfkaal en met ’n handdoek om sy onderlyf gedraai.

“Ek weet nie hoe om dit af te kry nie! Als is gevlek! Ek gaan vir altyd oranje wees!”

Soos wat die slaapnewels soos mis voor die son (of skel slaapkamerlig) verdwyn, ruik ek iets vreemds.

Vernis.

Skerp. Onmiskenbaar. Vernis. Taai. Oranje. ’n Bliksem om skoon te kry.

Die kind se voete is vernis. Oral op sy lyf is oranje spatsels.

“Die varnish gaan my vergiftig! Dit gaan my porieë verstop!” gil hy.

Persoonlik dink ek dat ’n gifdood heel gepas is. Ek is jammer. Noem my ’n slegte ma. Maar twee-uur in die oggend worry ek nie oor my kind se sagte velletjie of sy velkleur nie. Ek dink net aan een ding: Hoe lyk die res van my huis . . .

Ek vlieg op. Hy stoot my terug in die bed.

“Nee, Ma! Moenie gaan kyk nie!”

Dié woorde wek kommer. Maar dan uiter hy die sin wat suiwer vrees in my laat opborrel.

“Als is onder beheer, Ma. Ek promise. Ek het als skoongemaak.”

Ek vlieg op soos ’n besete vrou. Ek bêre die vernis in die onderste laai van die DIY-kas in my kombuis. Ek storm die kombuis binne. Als is skoon. Als is op hul plek.

As ek verder stap, sit my voete vas aan als. Mooi man. Nou is my voetsole ook vernis.

Maar as ek sake van nader bekyk, sien ek dit. Spatsels vernis orals. Op die vensters, op die vloer, op die kaste, wasmasjien en mure. Die krane is oranje en taai. Dit is eers as ek afkyk na die mat (vir altyd bevlek met groot bruin kolle) dat ek besef ek het nie skoene aan nie.

As ek verder stap, sit my voete vas aan als. Mooi man. Nou is my voetsole ook vernis.

Feit: ’n Mens kry nie vernis sommer uit of af nie.

Feit: Elbow grease is ’n oulike term vir waar krag ingespan word om iets skoon te maak. ’n Begrip wat my seun gou leer ken het omdat hy elke stukkie self moes afwas.

Feit: Verdunner verwyder vernis baie maklik en vinnig.

Feit: Ek het nie verdunner in my huis nie.

Feit: Jy kan naelpolitoerverwyderaar gebruik.

Feit: My seun het reeds al die naelpolitoerverwyderaar gebruik omdat ons nie verdunner in die huis het nie.

Die vraag is wel: Wat de &%$## het hy twee-uur in die oggend met vernis gemaak?

En wil jy nog ’n feit weet? Die meeste ouers het kinders om sekere redes: om hul huwelik te red, om ’n broer of suster vir hul kind te hê, om ’n leemte te vul en soms, onder vreemde omstandighede, omdat hulle hou van kinders.

Ek? Ek was verveeld. My man was besig in die motorhuis, ek was ledig en my kop het oortyd gewerk. Wat van ’n kind? het ek gedink. Hoe erg kan dit wees? Wat kan verkeerd gaan?

Wat kan verkeerd gaan! Waar sal ek begin?

’n Gewigsprobleem en vrees vir huilende babas wat ek nie kan afskud nie.

Gebreekte glasvensters, wynglase en erfbakke.

Permanente leë koskaste en oortrokke rekeninge.

Verbrande matte, handmerke op die dak en voetspore teen die muur (don’t ask) wat ek ten duurste moes laat skoonverf omdat ek ’n huurder was.

Om net ’n paar te noem.

En nou die vernis.

Dit is nou twee dae later en steeds vind ek spatsels vernis en hang die kenmerkende skerp reuk nog in die lug.

Wat my bring by dié vraag: En nee, dis nie hoe ek die vernis uit my mat gaan kry nie. Dit is ook nie hoe die vernis op my vloer beland het nie. Dit is maklik. Dit het geval. Al word dit natuurlik ten sterkste ontken.

Die vraag is wel: Wat de &%$## het hy twee-uur in die oggend met vernis gemaak?

Lyk my die rede gaan saam met hom graf toe – varnished without a trace.

Ns: Seun nog vernis. Moenie opspoor en aan my terugbesorg nie.

(Dankie aan Jo Prins vir sy verniswoordspeling!)

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Kinders  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.