Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verrinneweer en teleurgestel deur die liefde

My tannie Ann sou vandag verjaar het. Oorlede ma se oudste suster. My peetma.

Ek was nog op skool toe sy in ’n hospitaal in Benoni oorlede is. Sy was ’n mooi vrou. Hoë Sophia Loren-wangbene.

Dana Snyman Foto: Denvor de Wee

Op haar begrafnis was minder as twintig mense. Pa het die diens gelei, in ’n kapel by ’n begraafplaas iewers aan die Oos-Rand. Ek onthou oupa Willie wat met sy growwe werktuigkundige-vingers oor sy wange vee, en die weemoedige klank van ’n elektriese orrel, en ons paar wat sing: “Ek sien ’n nuwe hemel kom . . .”

Tannie Ann se laaste minnaar was ook op die begrafnis, ’n oom met ’n neus vol gebarste aartjies en ’n bewende sigaret tussen die vingers.

Ek het tannie Ann se foto-album geërf, maar daar is nie ’n enkele foto van haar in nie. Sy was die een wat altyd die foto’s met haar Kodak Instamatic-kameratjie geneem het. Van Uncle Ted, haar tweede man, is daar ’n hele paar foto’s in die album. Haar eerste man, ’n polisieman, het haar glo aangerand.

Sy en Uncle Ted, ’n Brit met ’n skeepsanker op sy voorarm getatoeëer, het op Newcastle in Natal gewoon. Uncle Ted was ’n elektrisiën. Smiddae wanneer hy van die werk af gekom het, het hy sy oorpak uitgetrek, gebad, sy pajamas en japon aangetrek en in die bed geklim asof hy Hugh Hefner is. Hy het whiskey gedrink. White Horse.

Om elke White Horse-bottel se nek het ’n wit perdjie aan ’n toutjie gehang. Tannie Ann het die perdjies gebêre en dit vir my gegee wanneer ons by hulle aangegaan het op pad Suidkus toe.

Op ’n dag lui ons foon. Ma in trane. Uncle Ted is weg. Hy het tannie Ann die oggend gegroet asof hy werk toe gaan, en die middag nie weer teruggekom nie. Gebede. ’n Noodberig oor Radio Suid-Afrika: “Daar word dringend gesoek na meneer Ted Wallace . . . Is onderweg in ’n geel Toyota Corona Mk II . . .”

Die polisie het help soek, maar geen misdaad is vermoed nie. Uncle Ted het weggeloop.

Die polisie het help soek, maar geen misdaad is vermoed nie. Uncle Ted het weggeloop.

Ma wat vir Pa sê: “Nou sal sy maar by ons moet kom bly, engel.” Ek en Pa wat in ons Ford Ranchero-bakkie van Naboomspruit af ry om tannie Ann te gaan haal. Tannie Ann se groen rusbank agterop die Ranchero – dieselfde groen bank wat ek steeds het.

Ek weet nou my eerste egskeiding was nie my eie een jare later nie. My eerste egskeiding was tannie Ann s’n in 1975 op Naboomspruit.

Ek onthou hoe ek smiddae by haar op die stoep gesit en hoopvol straataf kyk terwyl sy een sigaret na die ander rook. Hoe ek wonder of ek saam met haar moet huil toe Glenys Lynne oor die radio sing “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack . . .” Hoe Ma vir Pa fluister: “Jy sal die drankkabinet moet sluit, engel.”

’n Paar maande later het Ma-hulle vir tannie Ann by die Koo-inmaakfabriek in Benoni werk gekry. Toe is sy soontoe. En toe kom die kanker.

Ek dink vandag aan jou, tannie Ann. Ek eer jou en ander vroue nes jy vandag – vroue wat verrinneweer en teleurgestel is deur die liefde.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.