Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verskil só van ander sonder gebalde vuiste
Prof. Wilhelm Jordaan Foto: Lisa Hnatowicz

Die invloedryke Katolieke teoloog Hans Küng (93), wat onlangs dood is, had sterk menings oor hoe geloof ’n lewegewende krag kan wees sonder die las van die enigste “korrekte geloof”.

In sy The Church: Maintained in Truth skryf hy: “The totality of faith consists in the integrity of commitment, not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time.” Dit beteken toewyding is belangriker as die korrektheid van jou geloofsinhoud; hoe suiwer jou kennis en begrip van kerklike leerstellings is. Jy mag maar selfs ’n bietjie verdwaal raak én dwaal.

Toewyding behels ’n paar dinge. Is jou geloof kreatief? Bevat dit, soos toe jy ’n kind was, ’n spontane, verbeeldingryke verwondering en lewensomhelsing wat maak dat gewone lewensgoed helder skitter?

Is jou geloof selfkrities? Is jy byvoorbeeld bereid om die strydighede in jou geloof te ondersoek en kan jy daarmee saamleef? Kan jy jou geloof integreer met jou ganse lewe en die morele konsekwensies daarvan deurvoer sodat dit ’n verskil in jou lewenstyl maak wat betref liefde, geregtigheid, medelye en sorg teenoor alle mense?

Laat jou geloof verdraagsaamheid toe? Verdraagsaamheid is die hart van toewyding. Want juis die integriteit van jóú toewyding moet ’n ánder se integriteit van toewyding waarborg én laat gedy.

Hieruit volg nog ’n belangrike oorweging: Laat die integriteit van toewyding ook verdraagsaamheid vir onverdraagsaamheid toe? Dit is taamlik maklik om verdraagsaam te wees as mense so ’n bietjie van jou verskil, maar die eintlike toets kom wanneer ander radikaal van jou verskil en woedend, selfs vyandig, jou geloofsopvattings verdoem. Hoe lyk die gesig van verdraagsaamheid dán?

In Afrikaans is die betekenis van “verdraagsaamheid” ’n bietjie skraal. Dit beteken dinge soos “duld” en “uitstaan”, ’n soort lydsame aanvaarding. In die trant van: Ek laat jou maar praat en begaan, maar ek hoor jou nie eintlik nie, want dit is nie die moeite werd nie. Ek is reg, jy’s verkeerd. Waarmee jy eintlik sê: Die nuwe lig wat ek gekry het, verdonker alle ander lig. Staan opsy dat mý? lig kan skyn.

Soms is dit nuttig om die wortelbetekenisse van ’n woord na te gaan ter wille van dieper begrip. Die Latynse oorsprong van verdraagsaamheid (“toleransie”) beteken: “om te verduur”; “om op te tel”; en “om te dra”. So gesien behels verdraagsaamheid juis dít: Terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou opvattings saam of dit m?ýne is, en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen.

Sulke verdraagsaamheid maak dat alle gelowiges – hetsy huiwerend of oortuig, twyfelend of seker – met verwondering voor die geheim van ’n Godheid kan staan, langs mekaar en nie teenoor mekaar nie; met geboë hoofde, nie met gebalde vuiste nie.

  • Jordaan is ’n emeritusprofessor in sielkunde.
Meer oor:  Menings  |  Geloof  |  Wilhelm Jordaan  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.