Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verskoon my, ek gaan nou eers bietjie huil
Johan van Wyk

Woorde oor die laaste gedrukte Volksblad môre ontbreek my.

Daarom neem ek my toevlug tot die gevleuelde woorde van digters wat my gevoelens veel beter kan uitdruk. Shakespeare is een, hoewel selfs hy dit nie beter kan doen nie as ’n anonieme digter in D.J. Opperman se Groot Verseboek, met die titel van sy eenvoudige, maar treffende vers, “Hier sit ek”: Hier sit ek onder die hoogte, / hier sit ek onder die hoogte, / hier sit ek onder die hoogte / met trane in my oge . . .

Shakespeare? Wat anders as sy sonnet “Time and Love” wat hy uit vrees om deur tyd ingehaal te word en sy geliefde te verloor, só afsluit: This thought is as a death, which cannot choose / But weep to have that which it fears to lose.

So ’n bek moet jêm kry, ryp vyejêm, want dis mos die lekkerste jêm!

Net so lekker soos dit was om vir Die Volksblad – ek weet steeds nie wat die sin daarvan was om die “Die” te laat wegval nie – te werk toe gedrukte koerante die polsende, lewensbloed van die eens gesogte, byna uitverkore joernalistieke beroep was en tienduisende daagliks in ’n magtige papierstroom van ’n dreunende rolpers gevloei en wyd en syd gekoop en gelees is. Met geld in die bank vir die Nasionale Pers met sy inspirerende, intussen verworpe, stigtingsleuse, “Het daghet overal” onder die embleem van ’n opkomende son.

Soos Liza Minnelli in Cabaret gesing het: Those were the days, my friend! Sal ons dit ooit vergeet? Nooit!

Soos Liza Minnelli in Cabaret gesing het: Those were the days, my friend! Sal ons dit ooit vergeet? Nooit!

Indien nie ook “days of wine and roses” nie, oftewel lekker sterk Joko-tee bedien deur Grace in getjipte koppies op ’n tuisgemaakte skinkbord van goedkoop bordhout (die Nasionale Pers was toe nog arm, nederig en suinig). Joko by jou lessenaar met ’n outydse swart Remington-tikmasjien langs ’n asbak vol sigaretstompies, terwyl teleksmasjiene in jou ore knetter, telefone lui, mense heen en weer skarrel soos ’n perd met papies, bodes in uniforms wat met ’n klokkie ontbied word en ’n ligte trilling in Voortrekker-straat 79 gevoel kon word wanneer die ou Albert- en later die nuwe Goss-rolpers begin draai.

Nou is ons nog nie by die mooi jong verslaggewers in kort mini-rokkies, hulle lessenaars ter wille van sindelikheid aan die voorkant met bruin papier toegeplak. Ek kan nou nog my hare, wat ek nie meer het nie, uit my kop trek dat ek net party en nie almal gevry het nie.

Noudat ek julle in trane het, soos gesê is wanneer Ceres teen Calvinia op die rugbyveld aan die verloor was: “Cheer op Ceres!”

En koester die aangename herinnering. Soos Christoffel Coetzee dit in sy roman Op soek na generaal Mannetjies Mentz verwoord: Herinne-ring is ’n soort wysheid wat sy eie foute uit die verlede reg skep waar ons hier en nou lewe. Op die manier het herinnering te doen met oorlewing . . .

Wat meer kan ek sê?

Verskoon my, ek gaan nou eers ’n bietjie huil.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Volksblad  |  Media  |  Herinneringe  |  Nostalgie  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.