Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Versoening benodig ’n soeke na geregtigheid

Haatspraak kan nie geregverdig word in die stryd om geregtigheid nie, maar versoening is ook nie moontlik sonder ’n soeke na geregtigheid nie, skryf Nico Botha.

Nico Botha

Dis interessant hoe ’n enkele twiet ’n groot herrie kan ontketen.

Sprekende voorbeelde hiervan in die onlangse verlede is twiets wat haatspraak bevat het, asook dié wat Helen Zille, oudpremier van die Wes-Kaap, in vuurwarm sop laat beland het.

Ek wil egter fokus op die twiets van Zindzi Mandela, ’n bekende naam in die Suid-Afrikaanse politiek, wat soos die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok ’n taamlike gefladder veroorsaak het.

Dit is uiteraard sleg vir enige mens om as ’n verkragter, ’n lafaard of ’n dief uitgekryt te word. Heelwat van die reaksie in die Afrikaanse media op haar twiets, sny die kwessie van versoening aan.

Die argument wat aangevoer word, is dat haar taalgebruik haaks staan met die soeke na versoening in Suid-Afrika. Daar word vervolgens dan hoog en laag gesweer by versoening in die naam van haar ikoniese pa, Nelson Mandela.

Miskien is dit juis gepas om enkele dae voor Mandeladag op 18 Julie die kwessie van versoening krities te bekyk – met apologie aan Suid-Afrikaners wat dalk voel dat dit ’n afgesaagde of holruggeryde saak is of dat ons welgeluksalig saam met mekaar sal lewe wanneer die wonderlike vierde nywerheidsrevolusie aanbreek, so basta met versoening.

Die feit dat Suid-Afrikaners steeds sukkel met dinge wat taamlik vanselfsprekend behoort te wees, soos versoening, het baie te make met die oppervlakkige verwagting dat die skep van ’n goeie atmosfeer en ’n goeie onderlinge gevoel tussen mense alle teenkragte behoort te besweer.

In watter soort samelewing leef ons waar mense uiteindelik só totaal vereensaam is en in volslae wanhoop verval dat hulle dink daar is geen ander uitweg nie?

In ons nostalgiese teruggryp na ’n ongelooflike wêreldfiguur, en in ’n opregte poging om hom steeds te vereer, dink ons nie na oor die volgende vraag nie: Tot watter mate het Suid-Afrikaners Mandela “beloon” vir sy vergewensgesinde en versoenende gees?

Die kritiese vraag aan onsself moet tog wees waarom ons in die moeilikheid beland het ondanks al Mandela se prysenswaardige pogings om ’n atmosfeer te skep waarin mense vriendelik met mekaar kan omgaan en sáám die moeilike en komplekse vraagstukke in die land kan aanpak?

Dié vraagstukke het name, maar is soms ook naamloos en adresloos, soos die vermoorde haweloses in Pretoria en die verjaagde haweloses in Kaapstad. Dis ’n aanklag teen ons samelewing en enige gesprek oor versoening is reduksionisties as dié perspektief nie in aanmerking geneem word nie.

Wat ook ’n rou en hol gevoel by ’n mens laat, is die vraag oor hoe dit gebeur dat ’n gesin van vier wat onskuldige kinders insluit in ’n tragiese gesinsmoord in die pragtige Sederberge aan die lewe ontruk kan word.

In watter soort samelewing leef ons waar mense uiteindelik só totaal vereensaam is en in volslae wanhoop verval dat hulle dink daar is geen ander uitweg nie?

Versoening sal dán vanself kom

Oudpres. Nelson Mandela het gestreef na die versoening van Suid-Afrikaners. Foto: Argief

Maar wat het dit nou met versoening te make?

Heel weinig en tog alles.

Dit het alles te make met hoe ons vergewend en versoenend lewe in ons families en daarom ook in ons gemeenskappe en uiteindelik ook in die land. Dit het heelwat te make met hoe ons op mekaar let en omsien na mekaar.

Daarom is die bedrieglik eenvoudige storie van ’n vroue-dominee oor ’n radiodiens ongewoon aangrypend.

Die storie lui dat ’n seun met pouse sy kosblik oopmaak, maar vind dat dit leeg is. Om die magie effens te vul, gaan hy toe na die badkamer om water te drink.

Daarom kan die erfenis van Mandela slegs behoorlik gevier en hy postuum “beloon” word as die volgende twee dinge as ’n eenheid hanteer word: Sy onvermoeide pogings om ’n atmosfeer van versoening daar te stel en sy ewe onvermoeide stryd om geregtigheid vir alle mense.

Met sy terugkeer in die klas vind hy skielik, en tot sy groot verbasing, ’n toebroodjie en ’n appel in die kosblik. Hy merk toe op dat die meisie voor hom presies dieselfde soort toebroodjie eet en die seun langsaan ook ’n appel eet.

Die kwessies in die land is uiteraard veel tergender en meer kompleks as dít, maar die basiese les is miskien dat medemenslikheid en groot goed soos versoening vanself kom waar mense na mekaar omsien.

Só ’n benadering doen veel meer as die retoriek oor ’n middeweg of die middelgrond óf oor die gematigdes wat hul kragte moet saamsnoer.

Dié argument kan juis teen die verwagting in aweregs funksioneer omdat dit dalk onbedoeld die klasse-onderskeid en die geweldige ongelykhede in die land verdoesel.

Versoening, lyk dit vir my, veronderstel juis dat die bestryding van sulke werklikhede deel van die projek uitmaak. Daarom kan die erfenis van Mandela slegs behoorlik gevier en hy postuum “beloon” word as die volgende twee dinge as ’n eenheid hanteer word: Sy onvermoeide pogings om ’n atmosfeer van versoening daar te stel en sy ewe onvermoeide stryd om geregtigheid vir alle mense.

Wie trag om deur haatspraak sy of haar stryd om geregtigheid voort te sit, sal bedroë daarvan afkom.

Maar so ook diegene wat verlang na ’n atmosfeer van versoening sonder ’n opregte soeke na geregtigheid.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Zindzi Mandela  |  Nico Botha  |  Haatspraak  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.