Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verster-dood: Hoop, liefde leef
Gert Coetzee

Bloemfontein se Vrystaat-stadion is die plek van Mannetjies Roux se duikdrie (in 1962); Roger Bougarel, klein Franse vleuel, se Frik du Preez-plettervat (1971); Pierre Spies, Noord-Transvaal-vleuel se hartbreek-drie (1975); Gysie Pienaar se Bok-drie (in 1980 met die bal agterná triomfantelik omhoog), en van Chris Burger, WP-heelagter, se nekbesering (1980).

Burger is later dood, drie dae nadat Rampie Stander, Vrystaat-stut, wat in ’n rugbyoefening ineengestort het, ook gesterf het. In dié stadion het die Vrystaat die Curriebeker in 1976, 2006 (gedeel), 2007 en 2016 verower. 

Hier het Bafana vir Frankryk 2-1 in 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi geklop. Maar dit is as rugbyveld dat dié sporttuiste beroemd is. In die dae van propperse klubrugby is dit ook hier waar klubspanne soos die UV se Shimlas en Irawas, die Bloemfonteinse Onderwyserskollege (BOK), Polisie, Weermag, Collegians, Schoemanpark en (lank gelede) dalk selfs Tuine teen mekaar gespeel het. 

In daardie dae het twee broers hier vir die Vrystaat en Shimlas gespeel – Basie Verster, woelige rooikop-losvoorspeler, en sy broer, Harold, flank. Waarskynlik het Basie (en Hilda) se oudste se seun, Pieter, ook hier uitgedraf in sy speeldae vir Grey-kollege en die UV.

Gister was almal weer hier – die “Versterre” (soos ’n vriend gesê het); die Grey-familie; die Shimla-familie; die Vrystaat-familie; die mense van Bloemfontein (ook burgemeester Olly Mlamleli); vriende van Stellenbosch, en baie ander. Met sportlui alom.

Dié keer nie in die paviljoen nie, maar in die Presidentsaal. Goed 500 mense. Met nog in die losie langsaan.

Pieter was nie hier nie, maar hy en sy lewe was die rede hoekom almal hier was. Verlede Maandagaand het hy en sy gesin – Adele (oud-joolkoningin van Kovsies), JP (14) en Retief (3) – gaan slaap. Teen die volgende oggend het hy nie meer geleef nie.

In die Presidentsaal gister het sagte sonlig deur die gaasgordyne gesyfer. Voor was ’n groot foto van Pieter (44, toe hy dood is) met ’n sonhoed. Adele se kop teen sy wang. ’n Foto vol liefde.

In ’n gewyde middag vol rou. Maar sonder verwyt, bitterheid of blaam. 

Hoop en liefde. Bou en nie breek nie. Oplossings en nie probleme nie. Maar bowenal hoop en liefde, was die refrein.

Volgens Basie was hy so positief dat hy selfs oor die Cheetahs positief kon wees, het Billy Seyffert, ’n vriend, gesê.

Soos wat Pieter geleef en verkondig het. “Resilience” was juis die eerste woord van die laaste boek wat hy ooit gelees het. 

Volgens Basie was hy so positief dat hy selfs oor die Cheetahs positief kon wees, het Billy Seyffert, ’n vriend, gesê.

Soos te wagte is van ’n laaitie wat toe hy klein was met rooi kouse en ’n swart broekie en wit trui, nes die Vrystaat-span, teen homself rugby gespeel het. In ’n onpaar tokse, omdat hy verskillende groottes links en regs gedra het.

Adele, in ’n stemmige swart blomrok, het onthou hoe Pieter ondanks sy steekwonde hul aanvallers eers verjaag het. Die polisie kon dit nie glo nie. Nadat hy geweet het sy gesin is veilig, het hy op die matras in Retief se kamer “gaan rus”.

“My seun, JP, as dit nie vir jou was nie, my held, jou pa se kind . . . ,” het sy gesê. In sy kort boodskap het JP, ’n rankerige krulkopseun, vertel as hy en sy pa gholf gespeel het, was dit nie ’n alleensport nie, maar ’n spansport.

Daar was trane, maar veral Magic Moments and Memories – in ’n video oor die Versterre. ’n Vriend het “beroof” gevoel. Maar die versugting is dat Pieter se gees van positiwiteit voortleef om Suid-Afrika te verander. Voorbidding is vir “ons land” gedoen.

Heel gepas is dié saad in 2017 hiér geplant. Ook dié moment in die Vrystaat-stadion leef voort.

Meer oor:  Gert Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.