Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Versterk demokratiese strukture – ter wille van kos!

Die behoud van die waarheid en vertroue in georganiseerde strukture sal deurslaggewend wees terwyl leiers in 2020 ’n weg baan in ’n toenemende dubbelsinnige, verdeelde en desperate ekonomiese omgewing, skryf Jolanda Andrag en Mihlali Xhala van Agri SA.

Verskeie uitdagings wag vanjaar op die landbousektor. Foto: Charles Smith

Die uitdagings in die Suid-Afrikaanse landbousektor moet oorkom word om Suid-Afrika se toekoms in die geheel te versterk.

Met soveel politieke verdelingslyne en moeilike ekonomiese toestande, het dié sektor ’n mikrokosmos van Suid-Afrikaanse en verskeie wêreldwye uitdagings geword. Van klimaatsverandering, populisme, migrasie, onsekerheid in die wêreldwye handelsomgewing, ernstige ongelykheid tot ’n brose sosiale kohesie – alles speel uit in die Suid-Afrikaanse landbou.

In 2020 sal leiers ’n weg moet baan in ’n toenemende dubbelsinnige, verdeelde en desperate ekonomiese omgewing. Die behoud van die waarheid en vertroue in georganiseerde strukture sal deurslaggewend wees.

Daar is werklike nood in die landbousektor. Dele van ons land ervaar die ergste droogte in dekades. Enorme finansiële verliese word gely met ’n uitkringeffek op waardekettings in landelike ekonomieë.

Die instelling van beurtkrag vroeg in Januarie was ook ’n dramatiese aanduiding van hoe broos ons ekonomie is.

In die Noord- en die Oos-Kaap neem kuddegetalle skerp af. In die Klein Karoo het verskeie boere al hul vrugteboorde verloor. In die groter Sutherland-streek het die totale getal skape van 440 000 tot ongeveer 30 000 afgeneem.

Verder het die veebedryf aansienlike verliese gely weens die bek-en-klouseer krisis. Die instelling van beurtkrag vroeg in Januarie was ook ’n dramatiese aanduiding van hoe broos ons ekonomie is.

Verskeie kommoditeite, soos tafeldruiwe, neute en sitrus, benodig dringend bykomende buitelandse marktoegang. Die voortslepende onsekerheid oor die uiteindelike uitkoms van die proses om die Grondwet te wysig, skep ook verdere druk.

Giftige brousel van vrees en woede

’n Knellende droogte heers in dele van die land. Foto: Anena Burger

Die onbeholpenheid van die regering is geensins ’n verrassing nie. Ondanks die beste pogings van die Ramaphosa-regering, skep die ontstellende lae vlakke van kapasiteit by staatsinstellings min hoop vir ingrypings op kort termyn.

Laasgenoemde is ’n krisis wat van bedryfsinstellings vra om eienaarskap te neem, hulself beter te organiseer, te reguleer en boere in hul geledere aanspreeklik te hou vir hul gedrag.

Hoewel baie dit reeds doen, stel die toenemende gebruik van ’n strategie wat eie is aan politici, sukses in gevaar: die uitbuiting van werklike frustrasies en swaarkry van boere om te mobiliseer vir ’n emosionele en verdelende agenda.

Ons maak onsself ons grootste vyand.

Halwe waarhede word gekombineer met misleidende en vals inligting om vrees en woede tuis te bring. Dikwels word aspekte van identiteit by hierdie giftige brousel gevoeg, wat verdere verdeling aanvuur. Georganiseerde instansies en hul leiers word teen mekaar opgestel. Nog erger is dat georganiseerde instansies teen die landbousektor, die regering en dikwels rassegroepe opgestel word. Dit lei tot die bevraagtekening van hul outoriteit, legitimiteit en strategieë.

Die opkoms van kwasi-landboupolitici wat hulself as sogenaamde betroubare (en die eksklusiewe) raadgewers van die regering verkoop, is ook kommerwekkend. Net so gevaarlik is diegene wat deur sosiale media en WhatsApp-groepe invloedryk geword het.

Hierdie mense is dikwels onverkose mense wat buite enige institusionele raamwerk wat aan hulle landbou-legitimiteit verleen, werk. Hulle het dit geen mandaat om die sektor se belange te verteenwoordig nie.

Ja, ons kan ideologies verskil en konstruktief debatteer oor die mate van ekonomiese regulering en ingrype wat groei sal stimuleer, maar die huidige krisis waarin ons ons bevind, vrywaar nie gedrag wat in politieke sin gelykgestel kan word aan stamgebondenheid nie. Ons maak onsself ons grootste vyand.

Veroordeel verdelende gedrag

Jolanda Andrag

Een van die grootste bates van die Suid-Afrikaanse landbousektor is die bestaande georganiseerde instansies wat deur demokraties verkose verteenwoordigers van die sektor bestuur word. Hierdie organisasies bestaan uit demokraties verkose bedryf-verteenwoordigers wat aan die landbousektor legitimiteit verleen en deursigtige besluitneming moontlik maak.

Nog ’n sterk punt is die ensiklopedie van kennis binne hierdie strukture wat gebruik kan word om uitdagings in die sektor die hoof te bied en groei te bevorder. Te midde van die transformasiedebat is hul bestaande ontwikkelingsvoetspoor en bereidwilligheid om hul pogings in samewerking met die regering te vergroot, een van die grootste geleenthede in landbou.

Mihlali Xhala

Ja, hulle is nie perfek nie. Soms belemmer hul federale aard prestasie. As ons egter nie gou beweeg om hul aansien en die skaal van hul bedrywighede te vergroot nie, loop ons die gevaar om ons vermoë om die uitdagings te bowe te kom, te verloor. Die regering kan en moet nie probeer om dit alleen te doen nie.

Die voortsetting van mobilisering gegrond op vrees en aspekte van identiteit is besig om waarheid en vertroue te erodeer – die gom van enige demokratiese en verantwoordelike struktuur.

Dit is die verantwoordelikheid van elke deelnemer aan hierdie sektor om verdelende gedrag te veroordeel, die verspreiding van valse inligting hok te slaan en saam met die bedryfsinstansies te werk ter wille van ons sektor.

Ons land se toekoms hang daarvan af.

* Jolanda Andrag is hoof van Agri SA se bedryfskamer en Mihlali Xhala is Agri SA se projek-assistent. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Agri Sa  |  Noord-Kaap  |  Oos-Kaap  |  Landbou  |  Sosiale Media  |  Ekonomie  |  Droogte  |  Veebedryf  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.