Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Versugting na ’n lekkerlees-boek in Afrikaans
Prof. Gerhard van Huyssteen

Ettie Bierman, C.F. Beyers Boshoff en Topsy Smith. Leon Rousseau, Karl Kielblock en Heinz G. Konsalik.

Dis mos hoe vakansie ruik! Die beskimmelde houtreuk van bedompige gras, koolstowwerige ink op vanieljeagtige papier as jy ’n dorpsbiblioteekboek oopkraak en diep deur jou neus inasem. Bibliosmia: die olfaktoriek van die boek.

Maar dis Desember 2016, mense! Ons lees op tablette en slimfone. As jy ’n retrohipster is, sal dit jou nog vergewe word as jy met ’n regte-egte, outydse Kindle-masjien rondloop.

Want die ware boekhartige (book-bosomed) bibliofaag is nie tevrede om net tien boeke met hom/haar saam te sleep nie. Nee, die ganske letterwêreld moet tydens my vakansie tot my beskikking wees.

Hoekom het ons nie eietydse hardoplag­romans nie? Neem ons onsself te ernstig op? Moet ons altyd wroeg?

En as ’n boek nie in Amazon se Kindle-winkel beskikbaar is nie, wel, dan is dit waarskynlik nie die moeite werd om gelees te word nie . . . (Daar was vanoggend 4 447 Afrikaanse boeke in die Kindle-winkel.)

Ek is by die see. (Vir ons Pretorianers is daar mos net één see, en dis die Noordkus.) Dit reën en die wind waai. Arme Hoekom (my poedelkind) lyk op Baby in Dirty Dancing. En toe hy poegaai van bal-op-strand-jaag langs my neerval, haal ek my tablet uit. Laat ek ’n lekkerlees- Afrikaanse vakansieroman koop.

Dis twee dae later. Geen sukses nie. Ek het die LitNet-resensieblad snuif gelees en vriende ondervra. Ek is op soek na leesstof wat aan die volgende kriteria voldoen:

  • Dit mag nie Hoge Letterkunde wees nie. Ek is gewoon te platkoppig om Afrikaanse literêre werke wat hoog deur akademici aangeslaan word, onder die knie te kry.
  • Hou verby met misdaadromans. Dié genre blom in die Kindle-winkel, maar persoonlik het ek vir eers genoeg gehad van al wat ’n speurder is wat alkoholisties, oorgewig en ongesond met “demone uit sy/haar verlede” wroeg.

Dis duidelik ’n resep wat ander lesers nog boei, maar as ek soos ’n uitgerysde vetkoek op die strand lê, wil ek tog liewer lees van ’n spierkragtige atleet wat die skurke op hulle neuse gee.

Waar is Fritz Deelman en Staal Burger? (Boonop, as ek oor moord, boewery en korrupsie wil lees, swiep ek deur my Netwerk24-app, dankie. Ons land is fiktiewer as fiksie.)

  • Ook liefdesromans waarin die karakters met spoke uit hulle verlede spook, kan maar vir eers links laat lê word.

As dit wel ’n liefdesroman is, laat dit vir ’n verandering deur ’n man geskryf wees. Of kan Afrikaanse mans nie oor die liefde skryf nie?

  • En les bes, dit moet humoristies wees. Hoekom het ons nie eietydse hardoplagromans nie?

Neem ons onsself te ernstig op? Moet ons altyd wroeg?

“Help!” skreeu ek en ’n blonde menseredder kom aangedraf.

In kort, dit moet ontspannende ontvlugtingslektuur wees. Weg met al die wroegromans!

Waar is ons Afrikaanse ekwivalent van William Sutcliffe se Are you experienced?, of Phileine zegt sorry van Ronald Giphart, of die Spud-reeks van John van de Ruit?

Het ons nie ten minste één Sue Townsend of Joe Keenan of Stephen Fry nie? Waarom is ons boekrak so swáár gelaai?

Ek sug, staan op en gaan stap knorrig saam met Hoekom langs die see. In treurige, gietende reën.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Boeke  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.