Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Versuim wat ten hemele skreeu

Die dood van George Floyd in Amerika het met reg die fondamente van medemenslikheid geskud – en sy laaste woorde behoort vir ewig by ons te spook: “Ek kry nie asem nie!”

Heindrich Wyngaard

Tot nou het dié gebeure twee vername gevolge gehad: Die indruk is versterk dat swart lewens in die algemeen as goedkoop geag word, en dit het standbeelde van “ongure” historiese persoonlikhede tot ’n val gebring.

Dis skreiend dat dit die dood van ’n man soos Floyd gekos het om polisiebrutaliteit, nimmereindigende rassediskriminasie, en onafgehandelde gesprekke oor die verlede en vergifnis weer onder ons aandag te bring.

Sy dood het ook Suid-Afrikaners gedwing om die dood van Collins Khosa met ander oë te beskou. Dit was asof die impak van hoe hy ná die uitermatige geweld deur weermaglede beswyk het, ons vir die eerste keer werklik getref het.

Was dit omdat daar nie videomateriaal van die voorval is soos met Floyd se geval nie, of omdat die weermaglede swart was soos hy?

Hierteenoor was almal gou op hul perdjie oor ’n onlangse voorval in die Strand – wat wél op kamera vasgelê is – waartydens polisielede ’n vroulike drawwer in ’n polisievoertuig sou “geboender” het. Was dit omdat sy wit was, of omdat min van ons die moeite gedoen het om die video se klank op te stel sodat ons kon hoor hoedat een van die (bruin) polisielede vooraf vir die vrou vra waarom sy die middelvinger gewys het toe hulle verby haar ry?

Dít is die soort vraagstukke wat by ons universiteite bestudeer behoort te word, maar wat is die kanse daarvoor as dit voorkom asof ons akademiese afstand beoefen tussen ongemaklike kwessies wat uit ons land se verlede voortspruit, terwyl Amerikaanse universiteite gedy met sentrums vir die studie van ras en rasseverhoudings?

Ons versag die werklikheid eerder met “dekolonisering”-versiersuiker – en dit ook net weens die #RhodesMustFall-protesaksies.

Ons versag die werklikheid eerder met “dekolonisering”-versiersuiker – en dit ook net weens die #RhodesMustFall-protesaksies. Dié anti-koloniseringsbeweging, wat vanaf die Universiteit van Kaapstad na ander kampusse versprei het, het uiteindelik tot die verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes en die kritiese herbesinning oor kurrikulum-inhoud gelei.

Nou sien ons hoe die standbeelde van pro-slawerny- en koloniale persoonlikhede in Amerika (genl. Robert E. Lee), Brittanje (Edward Colston) en België (koning Leopold) afgebreek en beskadig word.

Oor Colston sê die Britse historikus David Olusoga: “Standbeelde sê: ‘Hierdie was ’n vooraanstaande persoon’. Maar dit is nie waar nie; hy was ’n slawehandelaar en ’n moordenaar.”

Dit is natuurlik net een uitgangspunt oor mense soos dié. Die ander is dat hulle weldoeners was en baie geld geskenk het aan byvoorbeeld universiteite en ander plekke van openbare belang, waaruit selfs die nasate van hul slagoffers ook voordeel trek.

Wat staan ons hier te doen, waar standbeelde, monumente en straatname nog grootliks die land se koloniale, Voortrekker- en apartheidshelde vereer?

Selfs in Kaapstad, oorspronklik die tuiste van die Khoekhoe-stamouers van die bruin gemeenskappe, staan Jan van Riebeeck nog kiertsregop in die Heerengracht, maar skitter Doman, Autshomato en Krotoa in hul afwesigheid.

Die ontslape digter Sandile Dikeni het my lank gelede – nadat hy die Louis Trichardt-standbeeld in Maputo gesien het – tot sy eie standpunt oorgewen: Die geskiedenis word nie verander deur die vernietiging van standbeelde nie.

Die verering van “ongure” karakters uit die verlede is dus nie die probleem nie; dat dit nie aangevul word om ’n meer volledige weergawe van ons gedeelde geskiedenis uit te beeld nie, dít skreeu ten hemele.

  • Wyngaard is ’n sosiopolitieke kommentator en lidmaat van VGK Caledon.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassehaat  |  Opstande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.