Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vertwyfeling oor meervoud van meerkat
Gerhard van Huyssteen

So, wat is die meervoud van meerkat? vra tannie Vrede toe ons saam met haar kolonie kleinkinders oor die gholfbaan in Skukuza slenter.

“Meerkaaie,” antwoord ek selfversekerd.

“Dan was ek verkeerd en my ou vriendin Saartjie reg. Ek dag nog altyd dis meerkatte.”

En net daar, op Skukuza se agtste bof, slaan die Groot Taalkundige Vertwyfeling toe . . .

Is ek dalk verkeerd oor meerkaaie? Waar kom die woord meerkat vandaan? Wat noem hulle Timon in The Lion King in Engels? Is ’n meerkat en ’n Engelse suricate dieselfde ding? En wat is ’n Nederlandse groene meerkat?

Ek wikipedia en google die internet pap, facebook my vriende vir hulp; bel dierkundiges en TV-makers; bestel derduisende rande se boeke; spoeg, plak; spartel, spook. Ek kan die koerant vol skryf tot in sy sportblad in – alles oor meerkat.

In ’n nuwe podsending op VivA se webwerf beantwoord ek ál bostaande vrae, maar nou beperk ek my tot die tannie Vrede-vraag: Wat is die meervoud van meerkat?

2017 se Afrikaanse woordelys en spelreëls bied dadelik ’n antwoord: meerkaaie én meerkatte is korrek.

2017 se Afrikaanse woordelys en spelreëls bied dadelik ’n antwoord: meerkaaie én meerkatte is korrek.

In die heel eerste AWS (1917) kry ek slegs meerkatte en mierkatte as wisselvorme – niks se geen meerkaaie nie. En só skryf ons rustig tot en met 1953, toe skielik naas meerkatte en mierkatte ook meerkaaie in die AWS opduik (maar nie *mierkaaie nie). In 1991 verdwyn die mierkattery heeltemal uit die AWS en kry ons net meerkatte en meerkaaie.

Is die AWS reg?

Uit ’n groot versameling geredigeerde tekste blyk dit inderdaad dat mierkat en mierkatte so goed as uitgestorwe is. Verrassend: Meerkatte is in 94% van die gevalle die gekose meervoudsvorm. Na regte sal die Taalkommissie kon oorweeg om terug te keer na die sobere lewe vóór die dekadente 1950’s: Weg met meerkaaie!

Na regte sal die Taalkommissie kon oorweeg om terug te keer na die sobere lewe vóór die dekadente 1950’s: Weg met meerkaaie!

Maar wag . . . Uit ’n aanlyn vraelys wat hierdie week deur 162 mense voltooi is, is die verhouding meerkatte:meerkaaie ongeveer 65:35. Meerkatte kry sterk voorkeur by mense ouer as 50 (65:35) en mense in hul twintigs (70:30). Respondente van tussen 30 en 50 is meer draadsitterig (60:40), terwyl tieners baie sterk (30:70) meerkaaie kies! Kan dit wees hoe ouer jy is, hoe meer geneig is jy om meerkatte te kies?

Of is dit dalk ’n streeksverskynsel? In Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal kies 70% van die mense telkens meerkatte; in die ander provinsies is die verspreiding baie meer in die rigting van 50:50. Die data is eintlik te skraps om deurgrondige menings te vorm, maar ons kan hipotetiseer dat meerkatte meer stedelik en meerkaaie meer landelik is.

Vir tyd en wyl sal ek nog maar meerkaaie se behoud verdedig – dalk omdat dit taalkundig grensloos interessant is, of dalk net omdat ek ook van die plaas is . . .

Gerhard van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Meerkat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.