Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vervleg soos goeie koeksister op kerkbasaar

Hierdie ignoramus van tegnologie en ’n ouma van amper 80 is deur my kinders aan die hare in hierdie era van mouse, bytes­­ en chips ingesleep. Dit ten spyte van my geskop en geskree dat ek nie die nuwerwetse katoeters wil hê nie.

Intussen het ek TV oorleef, die mikrogolf, die VCR, selfone, ’n lessenaarkomper, ’n skootrekenaar, Apple se iPod en mini- iPad. Maar dit was ’n lang pad en ek voel soos Napoleon ná al dié geslaagde veldslae. Natuurlik nie sonder skade en skande en skreiende frustrasies nie – my eie Waterloo.

Bely moet ek – tegnologie is hier om te bly. ’n Wêreld daarsonder is so vaal soos ou kool wat te lank gekook het. Maar vir iemand wat aan komperfobie gely het, klink dit nou sommer lekker grootbek.

Foto: ISTOCK

In my beginjare met kompers het die gesonde verstand verdwyn soos ’n motor se skete as hy die werktuigkundige sien. Ek is gewoonlik darem nie te onintelligent nie en Salomo se skaduwee wanneer dit by wysheid kom, maar ek slaan summier bottoe soos ’n mossel wat vermoed hy gaan pot toe wanneer ek voor die komperskerm inskuif.

Half breindood, met binnegoed wat vries van vrees, bid ek dan hardop dat die monster sommer in rook en vlamme moet opgaan.

Die kinders raak ongeduldig: “Ma, lees tog die handleiding. Dit sal help.”

Heuwels bedek my… Die inligting wat in die handleidings geskryf is, klink soos Hindoestani, Grieks of Chinees. My frustrasievlakke laat die Richterskaal bewe.

Toe bring die kinders Computers for Dummies huis toe met “Ma, dit móét help. En moenie bang wees om met Adam te spéél nie.”

Dis reg: Sy naam is Adam, want net mans kan so hardegat wees. Nogtans bly Job se geduld ontbreek. Woorde wat ek gewoonlik nie besig nie, skiet soos kartetse van die tong af. Flop! Flop! Flop!

Die komperfobie groei tot ’n komperkompleks groter as die kosmos. En as ek so sukkel, wens ek liewer ek was Pi. Nie die wiskundige vergelyking nie, die een op die boot met die tier. In die middel van nêrens. Dan kan die kinders my nie verpes met “Kom ons Skype vanaand” nie.

Die kop is hoeka al wollerig van wagwoorde vir dit en wagwoorde vir dat en wat is Skype tog nou weer?

Stadig maar seker keer my gesonde verstand wel terug. Ek begin Adam vertrou. Ek, wat nie eens my wekker vertrou nie. Babastappies verder kom die ontdekking: Om só te speel is darem baie beter as om toilette skoon te maak, te stofsuig of potte te skuur. Jy breek ook nie ’n duur, gemanikuurde nael nie.

Hoe meer ek vermag, hoe meer entoesiasties en waaghalsig raak ek. E-posse, die www met YouTube, flieks, aanlyn winkels, musiek en­ … en … en tot gunsteling-bordspeletjies uit my kinderdae!

Adam kan alles doen wat my hart begeer. Oukei, amper alles … En dis eintlik so maklik … so maklik soos om valstande te borsel.

En toe koop die kinders vir my ’n iPad. Soos Alice tuimel ek in ’n nog groter wonderwêreld in. Hier kan jy nog meer doen – duisende boeke aflaai en lees en … en … en toe . . . Woorde met Vriende. Scrabble! Jy kan woorde bou met vriende vanoor die hele wêreld. Hoe cool is dit nie?

KianeChalmers9034, cisco1172, Morely E, Fazoola64, Baby­peach7 en nog meer is nou my konstante maatjies. En dan is daar nog die telbord. En die opwinding en vreugde as jy nommer een is vir die week. En dan om nommer een te bly… daar’s die vangplek.

Dit maak my appelmasjientjie vir my ’n wonderwerkie. Ons tweetjies is vervleg soos ’n goeie koeksister op die kerkbasaar. Ons elektrone kliek en gesels dag en nag vir ure aanmekaar. Dis pure pret en plesier.

En die uwe is gevang – netjies binne-in ’n woordewebwip. En asseblief, ek wil nie ontsnap nie.

Nou ja, die huiswerk . . . Vergeet daarvan, hierdie ouma is nou ’n verslaafde tech boffin.

  • Haggard is ’n skrywer van Somerset-Oos.
Meer oor:  Deonette Haggard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.