Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verweerde huis bied skuilte in ’n vreemde jaar
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Iemand het eens daar gewoon, en om daar te kon woon is die helling bekyk en die klippe moeitevol aangedra. Want dis nie hierjy klippe nie waarmee die skuiling in een van die oorblywende plantasies naby ons dorp gebou is.

Die vloer van die skuilinghuis is gelig, en ek verbeel my die trap is in die middel effens weggeslyt. Hoe lank moet ’n mens in en uit oor ’n kliptrap sodat jou voetval ’n subtiele holte maak? Vlak voor waar die enkele deur was, is ’n rantjie waarop die aalwyne in die voorwinter hul oranje gebede uitstoot.

Ek het op ’n dag op dié plek afgekom nadat ek al langs ’n smal en seisoenale waterstroom gedrentel het op ’n warm dag. Dit is altyd koel in die plantasie, en die hond met haar wolfpels hou daarvan om deur die water te plas. Ek kan sweer haar oë word ’n toendra-amber sodra ons die aangeplante bos instap: ’n kleur wat opvlam soos die dennenaalde op die grond wanneer die laaste sonstrale dit laatmiddag vang.

’n Mens kom soms onverwagte goed teë in die plantasie: ’n verrinneweerde ou Nelspruit-nommerplaat (TBH – too bloody hot), ’n blikbord waardeur sampioene beur, die reste van ’n withalskraai, ’n klossie hare van vermoedelik ’n witkwasjakkals aan ’n verpestelike braambos, en die buiteraam van wat sekerlik ’n delwersif was.

Dalk was dit nog die einste eertydse bewoner van die ronde kliphuis sonder dak se sif in ’n tyd toe daar nog gedroom is van goud in hierdie geweste. As die mure maar kon praat, ja.

Daardie tye is die Blouswaelvlakte se ooptes vergete, so ook die diep klofie aan die dorpskant waar jy jou trap moet ken, en veral die ou begraafplaas, ondanks die ewige vreedsaamheid.

Maar dan moet dit liefs slegs praat oor daardie toentertyd. Dit moet asseblief stom bly oor al die geheime verdriet en vreugdes wat ek daar op die skewe trap sit en uitblaker.

Want van al die windrigtings wat ek kan inslaan op die berg, is dit daardie verborge klipskuiling waar ek my telkens bevind wanneer die lewensbranders so fel op mekaar volg dat ’n mens skaars jou kop gelig kan kry om asem te skep.

Ek nooi niemand behalwe die hond saam nie, want Mary Oliver het geskryf in “How I go to the Woods”: “I don’t really want to be witnessed ( . . . ) I have my way of / praying, as you no doubt have yours.”

Daardie tye is die Blouswaelvlakte se ooptes vergete, so ook die diep klofie aan die dorpskant waar jy jou trap moet ken, en veral die ou begraafplaas, ondanks die ewige vreedsaamheid.

Niemand kom ooit verby die grendellose skuilhuis nie. Ek weet, want ek was vanjaar baie keer daar.

Dikwels het dit laat geword, laat genoeg om saam met die aalwyne I.D. du Plessis se digstrofe te bid: “Eenling is die mens gebore / in die diepste van sy siel / skuil ’n plek waar, mens-verlore / hy in eensaamheid moet kniel.”

Snaaks, met die terugstap in die donker het ek nog nooit oor ’n klip gestruikel nie, elke keer my pad huis toe gekry sonder om te verdwaal.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  2020  |  Vreemde Jaar  |  Plantasies  |  Skuiling  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.