Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vet en ’n slet, maar is dit ek?

Almal van ons is al op die een of ander manier persoonlik aangeval en gewond gelaat, skryf Erla-Mari Diedericks. Dit het onlangs met haar gebeur.

Erla-Mari Diedericks

Hoe slaan iemand ’n vrou met ’n virtuele vuishou te pletter?

Jy noem haar vet of ’n slet. Dis hoe.

Verlede week plaas Netwerk24 en Volksblad ’n onderhoud wat die joernalis en skrywer Charles Smith met my gevoer het. Dit was in die algemeen ’n vrolike dog insiggewende artikel. Ek het vir hom foto’s gestuur wat ek trots was om saam met die artikel te laat verskyn en ek was opgewonde om dit te sien.

Toe kom die kommentaar.

Ek het al in ’n vorige rubriek oor negatiewe kommentare geskryf. Selfs in die onderhoud noem ek hoe negatiewe kommentare my al laat huil het.

Die een kommentator het geskryf (ons het sy kommentaar nooit geplaas nie, want dit was haatdraend) dat ek ’n mannehater is, vir albei spanne speel en het my ’n c***teaser genoem. ’n Ander kommentator het daarop gesinspeel dat ek oorgewig is, te veel koekies eet, geen selfbeheersing het nie en ’n aandagvraat is. (’n Aandag- en koekievraat, dus.)

Wat my laat dink het: As jy ’n vrou is en jy maak sekere mense kwaad, is hulle lief daarvoor om jou twee dinge te noem: vet of ’n slet.

Ek is nie ’n vreemdeling vir hierdie beledigings nie en hierdie soort retoriek het selfs ’n naam: argumentum ad feminam. Dis waar die vrou se karakter aangeval word eerder as om te reageer op die punte wat aangevoer word in ’n gesprek, redenasie of argument.

Die algemene term is argumentum ad hominem, maar net die feit dat daar ’n afsonderlike term vir persoonlike aanvalle op vroue bestaan, spreek al klaar boekdele.

So daar sit Die Buffel (ek weerhou sy regte naam) en meneer Open and Close (sy regte skuilnaam) en lees die onderhoud of my rubriek. Hy drink sy koffie of sy brandewyn en coke of teug aan ’n glasie rooiwyn.

Die foto wat tot die kommentaar gelei het. Foto: Gerda Louw

Iets in die artikel of argument krap aan hom. Iets in my houding of die lewenslus in my oë maak sy drankie net daar flou en lou – en laat hom met ’n wrang smaak.

Bewende vingers tik op die rekenaar. ’n Brein so beneweld met woede dat die eintlike argument nie raakgelees word nie.

Die Buffel en Open and Close pleeg ad feminam. Dus word die karaktereienskappe van die spesifieke vrou aangeval ten einde haar te diskrediteer.

Dis natuurlik nie net mans wat vroue aanval nie en dis nie net vroue wat aangeval word nie. In Afrikaans, en ook met Netwerk24 se kommentaarbeleid, gebruik ons ’n oulike gesegde: “Speel die bal, nie die man nie.” Mense val mense aan. Ad hominem.

Die karakterkapers is mense wat te onbevoeg is om by die daadwerklike punte van die argument, debat of onderwerp te hou. Dit gebeur toenemend in die politieke arena en op sosiale media. Kyk hoe word karakteraanvalle gebruik om politici en openbare figure te kritiseer en te diskrediteer.

Dr. Elio Martino, sielkundige, skryf dat ad hominem nie net lui en aanvallende retoriek is nie, maar dis uiters gevaarlik juis omdat dit doeltreffend is. Dit kan ’n gesonde debat net daar in die kiem smoor en rig groot skade aan in die Westerse kultuur.

Aan die een kant kan dit lei tot selfdood, eetafwykings en depressie en aan die ander kant skep dit ’n teelaarde vir boelies soos Donald Trump wat tot president verkies word en almal om hom persoonlik afkraak en só argumente wen.

Ek dink ons almal is al op die een of ander manier persoonlik aangeval en gewond gelaat. Soos wat met my gebeur het.

Vet en ’n slet.

Ja, dalk is ek albei. Dalk nie.

Maar my kop en hart is op die regte plek.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Charles Smith  |  Sosiale Media  |  Kommentators  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.