Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VF Plus: Dit gaan nie net oor DA-afjak

En skielik was daar tien van hulle.

’n Byna groter storie as die VF Plus se groei in die vanjaar se verkiesing is die manier waarop ontleders en joernaliste – veral buite die Afrikaanse omgewing – van verbasing rondgeskarrel het om aan hul gehore te verduidelik wie die VF Plus nou eintlik is en waar die groei vandaan kom.

Dalk is dit juis simbolies van die gevoel van marginalisering in die groter samelewing wat soveel Afrikaanses teruggejaag het na die VF Plus-kraal.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

“Ontnugtering met die DA,” is die oorvereenvoudigde antwoord, maar die party het ’n baie groter aandeel aan sy eie voorspoed as wat blyk.

Die VF Plus was die party wat seker die meeste van sy veldtogtyd aan sy eie standpunte en voorstelle afgestaan het eerder as om ander net voortdurend aan te val. Ook was daar ’n oortuigende poging om ’n bietjie nuwe energie in die party se aanslag te blaas eerder as om net dieselfde ou dansie oor en oor uit te voer.

Dr. Pieter Groenewald, partyleier, kry heel tereg krediet vir sy aandeel aan die party se verskerpte fokus. Maar sulke sukses word ook oor ’n langer tyd opgebou en die tydsberekening van dr. Pieter Mulder, sy voorganger, oor wanneer die nuwe man moet wegspring kort ook krediet.

In ’n groot mate is die party weer terug op die 1994-vlakke in die genl. Constand Viljoen-dae. Talle mense het vir die eerste keer VF Plus gestem, maar verreweg die meeste is waarskynlik terugkerendes wat deur Helen Zille se destydse boodskap van “kom leen jou stem aan die DA” gelok is. Ook het baie sin daarin gesien om ’n groter party te help versterk in die donker dae van Jacob Zuma.

Selfs in die Afrikaanse konsentrasie van Pretoria het die DA homself toondoof gehou vir die Afrikaanse kiesers en nie een sigbare Afrikaanse politikus op veldtogvlak ontplooi nie. (Selfs pres. Cyril Ramaphosa het harder, met Afrikaanse luitenante aan sy sy, na Afrikaanses gevry.) Dit het die VF Plus gehelp.

Baie van die middelklas- voorstedelike Afrikaanssprekendes werk steeds vir owerheidsinstellings of vir kleiner ondernemings wat met owerheidsinstellings sake moet doen. Daar ervaar hulle eerstehands hoe kaderontplooiing dienslewering en vaardigheidsvlakke ondermyn. En dikwels is hulle diegene wat oortyd werk om dinge te laat gebeur. Maar dan moet hulle vanuit die Aucklandpark-uitsaai-ateljees en by o, so verligte koffiewinkelontleders wat ook iewers skryf- of praatplek gekry het, hoor dat die land se grootste probleem hul rassisme is.

Die VF Plus het vir hulle ’n aanvaarbare protesvoertuig teen skynheilige politieke korrektheid geword.

Tensy die een of ander nuwe politieke noodtoestand ontstaan of drastiese oornagherskikkings plaasvind, gaan hulle waarskynlik vir eers daar bly. Groenewald en sy leierskorps verstaan goed hulle kan die nuwe steun nie as vanselfsprekend aanvaar nie en sal hard moet werk om dit te behou.

Moontlike suksesmodelle wat hulle kan volg, is dié van Tony Leon, wat ná 1994 met sewe LP’s draaie om die destydse NP-koukus van bykans 90 LP’s gehardloop het, ook in die staande komitees. Met nou tien pleks van vier LP’s kan die VF Plus groot impak maak. Hulle kan ook leer by twee voormalige Duitse politici, Franz Josef Strauss (konserwatief) en Hans-Dietrich Genscher (links), wat aan die spits van klein partye groot invloed op die Duitse politiek uitgeoefen het.

Maar ook in Afrikaner-geledere bly die VF Plus ’n minderheidsparty en verkies die meeste Afrikaanssprekendes steeds hul stem in direkte samewerking met swart Suid-Afrikaners (laat ons net dié perspektief ook behou).

As ’n effe groter party gaan die VF Plus vind hy is nou meer in die kollig, ook wat sy interne sake en allerlei sprake van nepotisme betref. Dit gaan ander energie tap.

En terwyl een van sy nuwe verteenwoordigers direk uit Orania verkies is, is ’n goeie beginpunt juis by sommige VF Plus-kiesers daar wat kla hulle word met hul geldsake ingeloop.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Dr. Pieter Groenewald  |  Barnard Beukman  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Politek  |  Stemuitslae  |  Vf Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.