
Willie Spies
Die skrywer en Nobelpryswenner Alexandr Solzhenitsyn is bekend om die aanhaling “sosialisme in enige vorm lei tot die totale vernietiging van die menslike gees”.
Solzhenitsyn is in 1918 in Kislowodsk, Rusland, gebore. Sy ma was van Oekraïense afkoms en sy oupa het van ’n nederige begin opgestaan om ’n ryk grondeienaar te word wat ’n groot landgoed in die Koeban-streek langs die Kaukasiese gebergtes opgebou het.
Uiteindelik sou die familie al hul grond sonder vergoeding verloor en hul welvaart is kragtens Sowjet-beleid onder kleinboere herverdeel.
Solzhenitsyn, wat nog gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n soldaat in die Rooi Leër was, is drie maande voor die einde van die oorlog aan die front in Oos-Pruise gearresteer en opgesluit weens die kritiek op Stalin wat hy in briewe aan ’n vriend uitgespreek het.
Terwyl Russe in die strate van Moskou feesgevier het nadat Hitler verslaan is, was Solzhenitsyn in aanhouding in ’n tronksel en kon hy bloot die vuurwerk deur sy tronkvenster bekyk. Hy het later oor die vieringe geskryf “there was no rejoicing in our cells and no hugs and no kisses for us. That victory was not ours”.
Hy het die vernietiging eie aan sosialistiese ideologieë aan sy eie lyf gevoel, eers as voorstelinie-soldaat in die stryd teen die Nazi’s en daarna as kritikus en slagoffer van Stalin se totalitêre bewind.
Die vernietiging van die menslike gees is iets verskrikliks.
Die vernietiging van die menslike gees is iets verskrikliks. Dit maak dat gewone mense op ’n manier optree wat nie van beskaafde mense verwag sou word nie. Hulle verontmenslik. Hulle raak wreed, vernielsugtig, eiegeregtig en verloor hul gesonde oordeel.
Maar te midde van die verontmensliking is daar altyd enkelinge wat opstaan en ’n lig laat skyn deur ’n – op die oog af – klein daad. In Solzhenitsyn se geval was dit sy skryfwerk.
Hy was die eerste skrywer wat die wêreld se aandag gevestig het op die wreedheid van die Goelag-kampe in die Sowjetunie, waarheen onder andere ontneemde grondeienaars gestuur is om hulle te straf vir hul weerstand teen die Sowjet-regime.
Hier ter plaatse is iets van daardie vernietigde menslike gees te sien in die optrede van twee EFF-studente-“vegters” in die Facebook-video van Eckhard Binding, ’n BCom-student en AfriForum-lid op die Kovsiekampus.
Hy tel gedweë die vullis op wat deur die rumoerige EFF-studente op die kampus gestrooi is, terwyl die twee vroue in rooi elke stukkie vullis wat in die vullisdrom gegooi word, weer uithaal en neergooi.
Maar waarom versprei dié kort video soos ’n veldbrand?
Teen gistermiddag het byna 2,5 miljoen mense oor die wêreld heen na die video gekyk. Dit lok steeds reaksie uit.
Maar waarom versprei dié kort video soos ’n veldbrand?
Binding se klein, byna onbenullige daad het die verbeelding aangegryp omdat daardie kort video veel harder as duisend woorde spreek: aan die een kant die pligsgetroue optrede van ’n wetsgehoorsame student met sy boeksak op die rug en aan die ander kant die vernielsugtige, eiegeregtigheid van twee EFF-studente.
Dit is ’n bou-kultuur en ’n breek-kultuur wat teen mekaar te staan kom, lui een van die kommentare.
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, se opmerking daaroor is kortliks: “Die student in die wit hemp gaan eendag suksesvol wees, nie omdat hy wit is of weens die verlede nie, maar as gevolg van sy karakter. Die studente in rooi gaan misluk, nie omdat hulle swart is of weens die verlede nie, maar as gevolg van hul karakter.”
Solzhenitsyn se aanhaling dat sosialistiese ideologie die menslike gees vernietig, slaan die spyker op sy kop.
Spies is ’n prokureur en direkteur van die regsfirma Hurter Spies Ing.