Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vier vrae oor SA se Armageddon
Jan-Jan Joubert

Dit het aand geword en dit het môre­ geword, nege dae ná Armageddon­.

So voel dit ná verlede week se anargie. Die hart daarvan was in my grootwordwêreld, my waarvandaan. Dit was ’n ontredderende ervaring wat ek nooit wil oorhê nie. Die omvang van die wetteloosheid en die skade – ook aan die selfvertroue van ons demokrasie.

Dit is daarom belangrik dat ons die regte vrae vra oor wat hier gebeur het.Eerstens: Wat was die inhoud van die beskikbare intelligensieverslae, hoe is dit oorgedra en wat is as gevolg daarvan gedoen?

Dit is met ’n mate van lewensmoegheid dat ’n mens hierdie vraag vra. Dis nou al meer as 20 jaar dat ek (en sekerlik ander ook) deur diegene met die ietwat ironiese naam intelligensiedienste stilgemaak word met die antwoord dat “operasionele sake nie geopenbaar word nie, in landsbelang”.

Wel, dis tans noodsaaklik dat opera­sionele sake geopenbaar word, in landsbelang. Die gevolge van intelligensie se hovaardige en geheimsinnige breedsprakige selftevredenheid skrei ten hemele. Hoeveel moet nog sterf?

Wat het die intelligensiedienste geweet? Wat het die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) geweet? Wat het militêre intelligensie geweet? Wat het misdaadintelligensie geweet? En wat het hulle nie geweet nie? Hoe het hulle gekoördineer? Wat het hulle besluit? Aan wie is die besluit oorgedra? Wie het dit uitgevoer? En wie het dit nie uitgevoer nie? En wat gaan nou verander, want soos die intelligensiedienste tans werk, werk dit nie.

Waarom het die anargie nie noemenswaardig versprei buite KwaZulu-Natal en die grootliks Zoeloesprekende dele van Gauteng nie?

Ek wil veral weet wie op aarde in KwaZulu-Natal verras was toe die Mooirivier-tolhek die eerste toneel van anargie was? Dit is nie ’n retoriese vraag nie. Want wie dit nie verwag het nie, moet aan die slaap wees. En wie het besluit om nie dadelik op te tree teen die chaos in Mooirivier nie?

Tweedens wil ek weet of dit ’n gepoogde staatsgreep was? Waarom of waarom nie? En as die opstokers en aanstigters dan so fluks in hegtenis geneem word, wanneer is dit Mxolisi Kaunda, burgemeester van die eThekwini-metro, en die Zuma-tweeling se beurt? Is dit ek wat in onbegrip lees wat hulle geskryf het of is dit die owerhede wat nie die skrif aan die muur, soos op enige selfoon, met begrip kan lees nie?

Derdens, en dít is ’n belangrike vraag: Waarom het die anargie nie noemenswaardig versprei buite KwaZulu-Natal en die grootliks Zoeloesprekende dele van Gauteng nie? Dis seker waar dat armoede, verhongering, ontheemding en voortgesette patrone van apartheidsgeografie bygedra het tot die revolusionêre klimaat. Maar as dit bepalend is, waarom kon die anargie nie wortel skiet in sewe van die nege provinsies, insluitend Ace Magashule se Vrystaat en Supra Mahumapelo se Noordwes, nie? Dis nie ’n retoriese vraag nie.

Want om arm te wees of van ’n spesifieke ras te wees, maak nie van jou ’n anargis wat sê “ek is nou so honger, ek steel sommer ’n TV” nie. Kyk hoe het die arm mense hul winkelsentrums beskerm. Kyk na die opbouende rol van die taxibestuurders. Kyk hoe het arm mense geweier om kanonvoer te word.

Vierdens: Is die huidige leiers van ons land die regte leiers vir ons tyd? Wie is die beste persoon vir president, minister of topposte in die veiligheidsmagte? Dis ’n meer opbouende oefening en interessanter as jy jou benoemings beperk tot buite jou rasgroep, taalgroep en politieke party.

Die huidige president moet ophou staatmaak op niebestaande vlakke van ordentlikheid en bekwaamheid en taai besluite neem, want ’n tweede Armageddon mag nie gebeur nie.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Oproer  |  Onluste  |  Plundering  |  Kzn-Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.