Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vir elke liewe hoof is daar ’n unieke deksel

By ’n geskiedkundige foto van ’n klompie Britse soldate vra Charles Smith dié week: “Die toppie wat sit, het ’n vreemde beret op. Kan iemand sê wat dié kepsies genoem is?”

Kop in een mus kom die antwoord: “ ’n Gewone Britse ‘forage cap’, ‘field-service cap’ of ‘side cap’. Selfde as wat die SA Lugmag nog dra.”

Ek gaan soek die Afrikaans – en verdwaal in woordeboeke tussen musse, hoede en kappies.

’n Hoed (meervoud “hoede” of “hoedens”, sê die AWS) het ’n netjiese fatsoen, meestal ’n stywe bol en ’n rand. ’n Kappie, daarenteen, is soepel en staan met ’n punt; dit bedek die hele kop, dikwels ook die nek, en word soms aan ’n ander kledingstuk, soos ’n jas of baadjie of (kappie)top geheg. Musse, meestal sag, is min of meer nousluitend en randloos en neem allerlei vorms aan. Sonder ’n rand, maar met ’n flap wat die son wegkeer, is dit ’n pet of ’n keps.

Charles se vreemde Engelse “beret” heet in Afrikaans ’n “kwartiermus”, -“pet” of -“baret”. Manskappe in kleintenue, minder formele uniform, dra dit wanneer hulle werk. In Duits word so ’n veldmus ’n “Schiffchen”, ’n “skippie” of “bootjie”, genoem en in Nederlands ’n “schuitje”.

Hoe goed ken jy jou musse?

Hoe goed ken jy jou musse? ’n Kosakmus trek jy diep oor jou kop en jou ore, soos ’n Kosak haar pelsmus. ’n Gekamoefleerde bekruipmus maak ’n jagter onsigbaar vir wild. Die veelkleurige narrekap met sy omkrulpunte en klokkies, ook “geks­kap”, “gekkekap” of “sotskap” genoem, is ’n kenmerk van die hofnar wat met ernstige sake die spot dryf.

Rooms-Katolieke geestelikes dra ’n hoë biretta, ’n vierhoekige mus met drie uitsteeksels en soms ’n hangende kwassie. Die pous s’n is wit; ’n biskop s’n pers. Professore en studente dra by hul togas ’n soort baret as teken dat ’n graad behaal is. Skilders en beeldhouers het vroeër ’n kunstenaarsbaret, ’n plat, sagte, ronde mus gedra, soos Rembrandt in sy selfportrette.

’n Klein, noupassende, of effens groter beanie van wol, in Afrikaans glo ’n “floppie”, pryk bo- of agterop die kop. Nes die kalot of skedelmussie wat bejaarde kaalkoppe, eens, soms binnenshuis gedra het en Rooms-Katolieke priesters vandag nog. Kroonmusse, kiepas of jarmoelkas, sien ’n mens ook by Jode.

Die son sê tieng en sy sweet deurdrenk sy mus ...

Die plat mus van Moesliems, soms met ’n sykwas, is ’n fes. ’n Klapmus het oorklappe. Aan so ’n mus het die bome op en langs twee kante van Klapmuts se kop, naby Stellenbosch, die Nederlanders laat dink toe hulle in die 1650’s aan dié “berg” sy naam gee.

In die omtes van die Cederberg, het die ou mense vertel, dool daar ’n gifdokter. Deur lank in ’n sak vol skerpioene en slange te lê, het hy self met dié gifgoed deurtrek geraak. Die son sê tieng en sy sweet deurdrenk sy mus, wat so ’n gifmus word waarvan stukkies, volgens volksgeloof, ’n onfeilbare raat teen slangbyt is. Soos Klaas Windvoöl (M.J. Brink, 1910) uitgespaar kon getuig: “Hij’t op ’n draf naar d’ slangdokter geloop, / Om ’n stuk van sijn mus ver ’n skaapvel te koop. / Die het hij, al het dit net banje gestink, / In water gekook en mij dit toe laat drink.”

  • Luther is ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Meer oor:  Jana Luther  |  Pet  |  Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.