Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Vir ’n veiliger Suid-Afrika
Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens voer ’n klopjag in Manenberg uit. Foto: Denvor De Wee

As die ANC in Desember ’n goeie leier kies, kan staatskaping dalk mettertyd gestuit, korrupsie verminder en staatsondernemings reggeruk word. Maar as ons nie die polisie reggeruk kry nie, lyk die toekoms steeds donker.

Alle aanduidinge is dat Suid-Afrika al meer onstabiel raak, en onstabiliteit is ’n staat wat wil groei se grootste vyand. Die ANC is self in ’n onstabiele toestand en dit kan ná Desember verder versleg.

Die ekonomie gaan nie gou met meer as 1% groei nie, terwyl die verwagtinge van veral die werkersklas en die al groter wordende stand van werkloses steeds in ’n opwaartse kurwe is.

Die legitimiteit van die staat is weer in ’n skerp afwaartse kurwe.

Dit is veilig om te voorspel dat protesaksies gaan toeneem en plek-plek in volskaalse opstande kan ontwikkel. Ons kan dalk ook gewelddadige grondbesettings ervaar.

Soos in Venezuela met sy ineengestorte ekonomie aan die gebeur is, gaan misdaad, bende-aktiwiteite en openbare geweld waarskynlik in die volgende jaar of so skerp toeneem.

Só ’n scenario kan sterk negatief op beleggersvertroue en toerisme inwerk.

Dit is dus van kritieke belang dat ons ’n goed opgeleide, effektiewe polisiemag onder dinamiese leierskap het wat misdaad in bedwang kan hou en oproerige skares met minimum geweld kan beheer. En dit is presies wat ons nié in die polisie het nie.

Die misdaadstatistiek van die laaste twee dekades wys dat daar ’n stadige afname tussen 1994 en 2011 was, maar ná 2011 (die Zuma-jare) het dit stelselmatig versleg. In Kaapstad, byvoorbeeld, het die aantal moorde die laaste vyf jaar met byna 40% toegeneem en politieke sluipmoorde landwyd is die hoogste nog.

Die Marikana-slagting is maar een van ’n reeks gevalle wat toon dat die polisie nie skares kan beheer nie.

Die Marikana-slagting is maar een van ’n reeks gevalle wat toon dat die polisie nie skares kan beheer nie.

Politieke leierskap en inmenging is die eerste sondaar. Die polisie het die laaste dekade die een ná die ander onbekwame – en soms korrupte – kommissaris gehad en die misdaadintelligensie-eenheid is min of meer tot Jacob Zuma se private foksterriër afgeskaal.

In Afrikaanse kringe word plaasmoorde as die ernstigste probleem beskou. Moorde op boere, hul gesinne en werkers is ’n verskriklike ding waaroor almal ontsteld moet wees, maar die veldtog om dit as ’n soort volksmoord uit te beeld en dit erger te maak as wat dit is, is erg teenproduktief.

Ons weet nou ná deeglike navorsing dat ’n politieke motief by plaasaanvalle die uitsondering is en dat dit primêr oor roof gaan. Willie Clack van Unisa, ook voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, het net laasweek op ’n internasionale konferensie oor plattelandse misdaad gewys dat plaasbewoners nie regtig meer kwesbaar as die breë bevolking is nie – hul risiko is 20 uit ’n 1 000 teenoor die
breër bevolking se 34 uit ’n 1 000.

Aktiviste wat op plaasmoorde fokus, moet dit nie ignoreer dat mense in townships en plakkerskampe baie meer kwesbaar is nie en dat hulle selfs minder aandag van die polisie kry as boere.

Die onlangse moord op 11 mense in Marikana buite Kaapstad (waar daar maar een polisieman vir elke 500 mense is) en die moorde op agt en toe vyf en toe vier mense die afgelope twee weke in twee distrikte in die KwaZulu-Natalse Middellande is voorbeelde.

Die Wes-Kaapse regering se shot spotter- tegnologie het onlangs honderd skietvoorvalle in een week in Manenberg geïdentifiseer. Plekke soos Nyanga, Diepsloot, Tembisa, Ivory Park, Umlazi, Evaton en Alexandra is van die gevaarlikste ter wêreld.

Ons gewone burgers kan nie veel meer doen nie as om harder te agiteer vir ’n veiliger Suid-Afrika en sterker op plaaslike vlak te mobiliseer.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Sluipmoorde  |  Staatskaping  |  Menings  |  Politiek  |  Anc  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.