
Dr. Isak Burger
Prof. Christina Landman het verlede week in haar rubriek “Ons is nie almal so nie” ’n saak aangeraak wat my – en ek glo vele ander mense – toenemend opval en onthuts. Dit gaan oor sogenaamde “pastore”, “profete” en “apostels” (soms van ander lande) wat naïewe (meestal arm) gelowige mense in ons land uitbuit en wat uitgevind het dat daar in ’n tyd van werkskaarste geld te maak is uit godsdiens.
Ek kan wel getuig dat feitlik elke gemeente waarmee ek ten tyde van die inperking kontak gehad het, sonder ophef of bohaai spesiale pogings aangewend het om mense te help wat swaarkry, terwyl sommige sélf deur ’n moeilike finansiële tyd gegaan het.
Die omvang van hierdie praktiese betoning van die liefde van Christus sal kwalik bepaal kan word, want dit word meestal (soos dit hoort) nie aan die groot klok gehang nie. (Ek reken terloops dat die kerk ten tyde van die staat van inperking meer maatskaplik-relevant geword het as in baie jare.)
Ongelukkig haal godsdiens deesdae toenemend om verkeerde redes die nuus.
Ongelukkig haal godsdiens deesdae toenemend om verkeerde redes die nuus. Daar gaan kwalik ’n week verby dat daar nie ’n berig is oor nóg ’n geval van seksuele misbruik, korrupsie, bedrog en misbruik van mag deur meestal selfaangestelde pastore en profete nie. Dit werp ’n onverdiende skaduwee oor die kerk en eerbare dienaars van Jesus Christus.
Daar is ’n paar kenmerke wat dikwels by hierdie individue en “bedienings” voorkom. Eerstens het die meeste van hierdie opportuniste relatief onlangs tot die “bediening” toegetree. Hulle is meestal nie beproefde bedienaars in die kerk nie en het gewoonlik ook min of geen teologiese opleiding gehad.
Hulle het spesiale selftoegekende titels, soos “pastoor”, “profeet” of “apostel”. Sommige dra selfs ’n akademiese titel, soos “doktor”, wat in die reël van obskure oorsprong is.
Die meeste van hierdie “sterre” leef met oordadige flambojansie.
Verder werk hulle feitlik sonder uitsondering onafhanklik, staan onder geen gesag nie en is aan niemand verantwoording verskuldig nie. Hulle is “spesiale uitverkorenes” van God en enigiemand wat waag om hul leer en lewe te bevraagteken, word met die oordele van God gedreig.
Die wêreldwye neiging tot individualisme en onafhanklikheid die laaste paar dekades het ongetwyfeld hierdie tendens in die hand help werk. Tradisionele kerklike dissipline en verantwoordbaarheid ten opsigte van leer en lewe wat in gevestigde kerkgenootskappe geld, is dus afwesig. Natuurlik wíl diesulkes nie onder enige gesag staan nie, om verstaanbare redes.
Die meeste van hierdie “sterre” leef met oordadige flambojansie. Kyk maar na hul kleredrag, die motors wat hulle ry, die huise waarin hulle woon en algemene leefstyl.
Hoe anders as die Groot Opperherder wat in Matteus 11:29 gesê het: “Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.”
- Burger is ’n voormalige kerkleier, skrywer en prediker.