Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vir sommige van ons is permitte nie vreemd nie

Dit is nie vir hom vreemd om ’n permit saam met hom te dra nie, skryf Willem Fransman jr. In die dae van apartheid moes hy twee saam met hom dra . . .

Willem Fransman jr.

’n Week of wat gelede ontvang ek ’n oproep van my departementshoof by die universiteit waar ek werksaam is. Hy versoek dat ek persoonlike gegewens moet verskaf sodat ’n permit vir my uitgemaak kan word. Die permit sal my bewegings gedurende die inperking net vergemaklik en bevestig dat ek ’n werker is wat ’n noodsaaklike diens verskaf.

As my geheue my nie in die steek laat nie, word dit volgens die Covid-19-regulasies 16(2)(b) en 28(4) vereis.

So gevra . . . so gedoen.

Dit het my gedagtes baie ver teruggeneem – na ’n tydperk in die laat 1970’s toe ek ook met ’n permit (eintlik twee permitte) my teenwoordigheid op die kampus van die Kaapse Kollege vir Gevorderde Hoër Tegniese Onderwys moes regverdig.

Een permit was van die rektor van die Skiereilandse Kollege vir Gevorderde Hoër Tegniese Onderwys in Bellville. Dit het aangedui dat die kursus wat ek loop, nie dáár deur hulle aangebied word nie.

Die tweede, en eintlik die belangrikste van die permitte, was die een van die rektor van die Kaapse Kollege vir Gevorderde Hoër Tegniese Onderwys. Dáárdie permit het my toegelaat om daar klas te loop en van die kafeteria gebruik te maak.

Daar was ook ’n paragraaf wat aangedui het dat ek nie aan enige sportbedrywighede aldaar kon deelneem nie!

Mense van kleur was, in die jare van ons afsondering, gewoond aan permitte. Almal wat by wit inrigtings wou gaan studeer, moes maar hul trots gesluk en dit gedra het – ter wille van ’n beter toekoms.

Dit was, na my beskeie mening, die naaste wat bruin mense aan die verfoeilike dompasse gekom het.

En nou in 2020 dra ons wéér permitte én boonop maskers.

Ons is almal met ’n groot benoudheid oorval toe ons die mense met die maskers oor hul gesigte gesien het. As iemand gemaskerd is, voorspel dit immers nooit iets goeds nie.

Die maskers het my laat dink aan een reënerige Woensdagoggend net ná sewe toe ek op die perron by Elsiesrivierstasie gewag het.

As dit reën in die Kaap, is die treine gewoonlik laat. Dit was dan ook daardie oggend die geval. Ons staan nog so en wag, toe kom ’n paar jong manne (comrades) in kakieklere en maskers op die gesigte na ons aangestap.

In daardie tydsgewrig was die land in ’n intensiewe landswye skole-, klasse- en werkersboikot vasgevang. Niemand kon gaan werk nie en klasse was opgeskort in bruin- en swart-woonbuurte. Groepe jong kaders het op stasies, bushaltes en die omgewing naby fabrieke toegesak om diegene wat hulle nie aan die boikotte steur nie te intimideer.

Ek was ’n student, getroud, met ’n dogtertjie, wat self vir my studie betaal het. Daar was nie tyd vir klasse boikot nie. En daar staan ek met my rugsak vol handboeke, op die perron op pad Kaapstad toe vir my klasse by ’n wit inrigting!

Ons is almal met ’n groot benoudheid oorval toe ons die mense met die maskers oor hul gesigte gesien het. As iemand gemaskerd is, voorspel dit immers nooit iets goeds nie.

Hulle het my rugsak met handboeke en my permit gegryp, dit op die treinspoor uitgeskud en die rugsak op die boeke en permit gegooi. Vreemd genoeg was ek meer bekommerd oor die permit wat kon natreën as oor die klappe en vuishoue wat op my gesig en lyf geval het.

Onder ’n luide gelag het hulle na die volgende slagoffer gestap. So in die wegstap het een omgedraai en my toegesnou: “Die klappe was oorlat djy mos klas loep saam moettie Whities!”

Nodeloos om te sê, was ek nie net laat vir my klas nie, maar het ek vir weke nog met ’n losserige voortand rondgeloop.

Daardie ander gehate permitte het ek opgeskeur op dieselfde dag as wat ek my laaste vak geskryf het.

As iemand deesdae met ’n masker na my toe aangestap kom, beleef ek feitlik dieselfde soort benoudheid van destyds. Wat vroeër nie toegelaat is nie, word nou die nuwe normaal.

Gegewe die denkrigting dat daar nie van 60-jariges verwag word om na hul werksplekke terug te keer nie, het ek nog nie eintlik my nuwe permit gebruik nie.

Daardie ander gehate permitte het ek opgeskeur op dieselfde dag as wat ek my laaste vak geskryf het. Vandag is ek eintlik spyt dat ek dit gedoen het, want ek kon dit nou saam met my nuwe permit geraam het.

Glo my, in ons land loop daar steeds ’n geslag permitdraers rond wat reken: “Permitte . . . ag nee wat, vir ons is dit niks nuuts onder die son nie!”

* Fransman is ’n skrywer en ’n vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bellville  |  Elsiesrivier  |  Permitte  |  Maskers  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.