Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vir vrybuiters is tesourie 1ste prys
Gert Coetzee

In ’n Jeffrey Archer-kortverhaal met ’n angel in die stert is Ignatius Agarbi die nuwe minister van finansies van Nigerië. Clean Sweep Ignatius raak bekend as ’n kampvegter teen korrupsie. As sy gesin gaan vakansie hou, weier hy dat die koste van sy ministerie verhaal word.

Vanweë sy skoon rekord stel die president hom aan om te gaan uitvind hoeveel Nigeriese amptenare hul buit in Switserse rekeninge versteek. Hy daag met ’n aktetas by die Switserse bank op. Die bestuurder weier om inligting oor kliënte te verskaf – ook nie toe Ignatius met ’n vuurwapen teen sy kop dreig om te skiet nie. Tevrede haal Ignatius die miljoene dollar uit sy tas – wat hy as minister gesteel het. Die “onkreukbare minister” kan geld versteek sonder dat die Switser hom sal verklap!

In Suid-Afrika voel dit ook so – asof nie eens een goeie mens oorgebly het in die hoë poste waar “openbare dienaars” hulle moet beywer vir die belange van die land en nie vir hul eie sak nie.

Wat onwaar is – daar bly altyd goeie ouens oor die spektrum heen oor.

In Suid-Afrika verdien die groot gros mense daagliks hul brood in die sweet van hul aangesig, en wil net leef en laat leef. En dis nooit so eenvoudig dat al die goeie uit een groep of party kom, en al die slegtes uit ’n ander nie.

Tog, metafories gesproke is ons land 23 jaar ná simboliese herskikking steeds gewikkel in ’n stryd tussen goed en sleg. Dit staan te skeie van die poging om rasgedrewe ongelykhede uit te wis. Eerder word dié regstelling ongedaan gemaak deur diegene wat vir eie voordeel ’n mafiastaat wil skep.

Anders as Ignatius se kru stelery is die aanslag hier meer gesofistikeerd, maar o so deursigtig.

Met beheer oor die staatskas – SA Reserwebank – as die finale prys.

Sonder wroeging daaroor dat die tesourie as fiskale beskermheer ook die waarde van die rand vir ekonomiese groei moet verskans.

En dat die vrybuiters in die bevoorregte dampkring se strooptog op die bank die ekonomie sal verwoes – asook die lewens van die verontregtes namens wie radikale ekonomiese transformasie dan glo gepleeg word.

Met beheer oor die staatskas – SA Reserwebank – as die finale prys.

Die besef van die skade blyk uit die teenkanting van onder meer Tito Mboweni en Gwede Mantashe teen Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, se aanbeveling spruitende uit die CIEX-sage oor die Absa-miljarde dat die Grondwet gewysig moet word sodat die Reserwebank gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei bevorder.

Hopelik is Mkhwebane se vreesloosheid vir teenproduktiewe reaksie te wyte aan insigloosheid eerder as dienswilligheid.

Mboweni: Bly kalm en moenie oorlog teen onsself verklaar nie. Ons kan nie bekostig om ons bank- en finansiële stabiliteit te destabiliseer nie.

Mantashe: Mkhwebane het haar magte oorskry. Die Reserwebank is reg om die OB-besluit in die hof op hersiening te neem. Die Reserwebank se geloofwaardigheid bly onaangetas en moenie mee gepeuter word nie.

Die SA Raad van Kerke het in sy verslag oor onder meer korrupsie en staatskaping – wat nogal strook met die vorige OB, Thuli Madonsela, s’n – gesê Suid-Afrika is op die rand van ’n mafiastaat. Stap vier in die SARK-lys van sewe stappe vir staatskaping, as deel van sy bevindinge, is: Neem beheer van die land se fiskale soewereiniteit oor. Dit sluit aan by die ander stappe, wat hulle daagliks in Suid-Afrika uitspeel, vir “onvanpaste beheer oor staatstelsels deur ’n magselite wat draai om die president wat staatsbates stelselmatig opsuig”.

Staatstropery geskied nie altyd so blatant soos Ignatius en sy Nigeriese tjommies s’n nie. Die stryd tussen goed en sleg in Suid-Afrika duur voort.

Meer oor:  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.