Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Virtuele parlement nie opsie vir die toekoms
Jan-Jan Joubert, skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?

Ons leef in ’n tydvak waarin elke Jan Rap en sy maat verkondig dat die manier waarop ons dinge doen, vir altyd sal verander. Die geskiedenis wys egter toekomsvoorspellings is gewoonlik onjuis of oordrewe.

Een van die groot veranderinge weens die staat van inperking is die toename in aanlyn vergaderings – en die parlement het ontpop as ’n taamlike wêreldleier op daardie gebied.

Die enigste hoofopskrifte wat ons arme wetgewer daaroor gehaal het, was (natuurlik) toe ’n paar vuige regse landgenote ’n vergadering van die parlementêre programkomitee gekaap en gekelder het met pornografie en rassistiese skeltaal teenoor die eerbiedwaardige speaker, Thandi Modise.

Daar is egter vasgebyt en teen voorverlede Vrydag – enkele dae voor die eerste virtuele sitting van die Amerikaanse kongres – het ons parlement al sy honderdste virtuele komiteevergadering gehou, te wete ’n woeste bakleiery oor die toekoms van die SAL in die staande komitee oor openbare rekeninge.

Vanmiddag het die Nasionale Raad van Provinsies hul eerste volle sitting wanneer dr. Zweli Mkhize (gesondheid) en een van sy kollegas, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (samewerkende regering), die raad toespreek oor die grendelstaat en vrae daaroor neem. Môremiddag is dit die arme Modise se taak om die eerste volle virtuele sitting van die Nasionale Vergadering ordelik te laat geskied. Dit is vraetyd aan ministers, en geen regdenkende mens kan haar dit beny nie.

Is virtuele vergaderings ’n tree vorentoe of terug vir die parlement?

Is virtuele vergaderings ’n tree vorentoe of terug vir die parlement? Voorstanders soos Pravin Gordhan voer aan dis vooruitgang en die toekoms, ook omdat dit die finansiële en tydskoste van amptenare se reis tussen Pretoria en Kaapstad drasties kan verminder.

Terwyl ek sal toegee dat dit as ’n oorbruggingsmaatreël gepas is om ’n vorm van parlementêre oorsig te behou in ’n tyd waar byeenkomste taboe is, meen ek nie dis verkieslik in ’n post-grendelstaat nie.

In enige demokrasie, maar veral in so ’n maatskaplik aparte land soos Suid-Afrika, is menslike kontak in die parlement noodsaaklik as ons nie algehele selfgerigte silo-denke ten prooi wil val nie.

Die parlement, vernaamlik in komitees, floreer op die persoonlike, die lees van situasies. Die ongemak van die ontwykende amptenaar, die lyftaal van die minister, die huiwering voor die sinsnede, die wegkyk wanneer die gewete anders praat as die mond, en die omgee op menslike vlak vir ’n politieke teenstander wat deur diep persoonlike waters gaan, is van die hoogtepunte van die deelnemende demokrasie.

Met fisieke teenwoordigheid is onwaarskynlike alliansies oor partygrense heen ’n sterker moontlikheid, dikwels tot heil van gans die land. Stereotipes word afgebreek, kontak is groei.

Op die keper, soos vir die grendelstaat: Ja vir virtuele vergaderings, maar slegs as oorgangsmaatreël, want virtueel sien jy die mens, maar nie die menslike nie. En dis mos die menslike wat ons mens maak.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Koronavirus  |  Parlement  |  Vergaderings  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.